MOSSELBAAI NUUS - In die verlede was die aanplant van uitheemse bome as 'n goeie opsie gesien, veral langs die kus waar dit as goeie windbrekers aangeplant is. Deesdae sien ons al hoe meer dat die indringer plante meer 'n pes geword het en 'n bedreiging is vir ons inheemse plantsoorte.
'n Span werkers genaamd die Danabaai Rehabilitasie Aksie groep (RAG) met die samewerking van die Mosselbaai-munisipaliteit en onder meer Dirk Zietsman, Mongezi Bobelo, raadsdame Marie de Klerk, Vincent Surics en Warren Manuel, het begin om die uitheemse plante in 'n groenstrook in Castanea straat in Danabaai uit te roei.
Die strook het baie port jacksonplante, rooipitjie en kikoejoegras (Pennisetum clandestinum). Kikoejoegras kom van Oos-Afrika.
Volgens De Klerk is die gemeenskap se aandeel van groot belang en elke indringerplant kan plek maak vir ons eie pragtige inheemse plante.
Hierdie span is verantwoordelik om uitheemse plantsoorte in een van die groen stroke in Danabaai uit te roei en inheemse plante te plant.
Vier kategorieë
Indringerplante word in vier kategorieë verdeel:
• Kategorie 1a: Indringerplante wat verwyder en onmiddellik vernietig moet word.
• Kategorie 1b: Indringerplante wat beheer moet word, volgens artikel 75(1), (2) en (3) van Wet op Biodiversiteit, 2004 (Wet 10 van 2004).
• Kategorie 2: Indringerplante wat slegs onder beheerde omstandighede gekweek mag word. 'n Permit word benodig om hierdie plante te kweek.
• Kategorie 3: Indringerplante wat nie meer geplant mag word nie. Enige kategorie 3 indringerplante wat in oewergebiede voorkom word outomaties as kategorie 1b indringerplante geklassifiseer.
Die rooikrans (Acacia cyclops- kategorie 1b) naamlik rooipitjie, wildebos, hoenderboom en baaibos is 'n digte, ondeurdringbare struik en is 'n groot gevaar vir Laeland fynbos.
Die Swartwattel (Acacia mearnsii - Kategorie 2), ook genoem die swart-basboom, swartwattelboom en blikwortelboom vorm 'n digte massa bome wat natuurlike plantegroei onderdruk. Wanneer wattel naby waterbronne geplant word drink die bome ongeveer 200 tot 300 liter water per dag/per boom. Wattel is 'n giftige boom.
Die Port Jackson (Acacia saligna - Kategorie 1b) bome versprei vinnig en hou ook 'n direkte bedreiging in vir fynbos en inheemse plantegroei.
Dit lê egter in die gemeenskap se hande om die uitheemse bome, plante en struike te beperk en uit te roei waar moontlik tot voordeel van ons voëls, bye, skoenlappers, skilpaaie en verskeie ander diere.
Vincent Surics verduidelik hier dat die port jackson se blaar een aar in die middel het terwyl die rooipitjie drie are het. Foto's: Jannie du Plessis
Lees 'n vorige artikel: Do your part for conservation
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'