MOSSELBAAI NUUS - 'n Groep Danabaaiers vergader gereeld as die Danabaai kuns- en naaldwerkgroep om op informele wyse hul talente en vaardighede te deel en van mekaar te leer.
Die voorsitter van hierdie groep, Henriëtte Naude het Woensdagmiddag, 25 April die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die wyksraadslid, Marie de Klerk en uitvoerende raadslid Anton Dellemijn as gaste ontvang by die eerste ten toonstelling van die groep se kunstige vaardighede.
Dié groep het boonop 'n houer vol gebreide babamussies aan die burgemeester oorhandig, bestem vir vroeggebore babas. Raadsheer Levendal het onderneem om toe te sien dat dié skenking aan die provinsiale hospitaal besorg word.
Die groep se voorneme om ook na ander belangstellendes, ook vroue in Aslapark uit te reik, is hartlik verwelkom deur die burgemeester, wat hulle aangemoedig het om van mekaar te leer in 'n gees van kulturele warmte.
Hy het gesê wanneer mense bereid is om van mekaar te leer, word verskille oorbrug en begrip aangemoedig.
Die groep is die inisiatief van 'n nuwe intrekker, Anlerie Pieterse, en raadslid De Klerk het haar vir haar ondernemingsgees bedank. Inwoners - mans ook - kan gerus op Saterdae ná 13:00 by die gewilde Traveller's Lounge in Malvaweg, Danabaai, aansluit.
Die bestuurskomitee van die Danabaai kuns- en naaldwerkgroep (agter) het die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal (voor, middel) en uitvoerende raadslede Woensdagmiddag gesellig onthaal. Foto's: Nickey le Roux
Byeenkomste is so gereël sodat diegene wat bedags werk, ook kan inskakel. Die groep se missie is om hul kreatiewe talent met mekaar te deel, van mekaar te leer en om terug te ploeg in die gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'