MOSSELBAAI NUUS - Clivia-liefhebber Willie Wentzel van Outeniquastrand gee na twee jaar waartydens verskeie van sy spogplante gesteel is tou op om met die stokperdjie voort te gaan.
Wentzel sê reeds meer as R400 000 se clivias is die afgelope twee jaar by sy huis gesteel en al het hy vier sake by die polisie aanhangig gemaak, blyk dit dat niemand hond haar-af kon maak nie. Die Mossel Bay Advertiser het reeds twee keer berig oor Wentzel se stryd teen die cliviadiewe wat saans op sy erf toeslaan en hulself aan sy pragplante help.
Sedert die diefstal twee jaar gelede begin het, het die diewe onlangs ook Wentzel se groot clivias wat hy uitgeplant het begin gesteel.
"Ek het 12 clivias in 'n groot houer gesit. Dit is volwasse plante en die laaste tyd het hulle sommer dit ook gevat." Wentzel het duisende rand se sekuriteit opgerig en selfs 'n sekuriteitswag aangestel. Ten spyte hiervan, het die diewe aangehou met steel.
"Ons slaap nie meer in die nag nie, en skrik vir die geringste geluid. Ek kan ook nie meer die sekuriteitswag bekostig nie."
Wentzel se erf is teen 'n steilte geleë en 'n groot beboste strook agter sy erf gee die verdagtes vrye toegang tot sy eiendom.
Hy het 11 sekuriteitskameras aangebring en verskeie spreiligte opgerig, maar dit het niks gehelp nie. "Hulle saboteer die hele gebied en het Saterdag die 3m lange paal waarop een van die kameras staangemaak is, uit die grond getrek."
Hierdie clivias is ook intussen gesteel.
Dit is as gevolg van die voortslepende diefstal wat die Wentzels nou die res van die oorblywende clivias wil verkoop. "Inwoners is welkom om my te skakel om die plante teen 'n spesiale tarief te koop. Ons wil nie meer dit aanhou nie en wat eens 'n stokperdjie en groot liefde vir my was, het nou in 'n nagmerrie ontaard."
Hy sê om al die clivias te verkoop, is nou vir hulle die enigste uitweg.
Kontak Wentzel by 044 879 1275 of 073 606 9635.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'