MOSSELBAAI NUUS - Prostaatkanker is die mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse mans. As gevolg van die vorige suksesvolle prostaat- en PSA-bewusmakingsveldtogte, bied CANSA in samewerking met plaaslike patoloë gedurende Junie tot 31 Augustus, 'n geleentheid vir mans om prostaat-siftingstoetse teen ‘n verminderde prys van R75 te laat doen.
Prostaatkarsinoom kom meer voor onder mans bo die ouderdom van 40 jaar. Bykans geen simptome of probleme word ondervind nie, totdat pasiënte lae rugpyn begin ervaar, wat reeds op ‘n gevorderde stadium dui. Daarom is dit uiters belangrik vir mans bo die ouderdom van 40 jaar om jaarliks vir ‘n roetine ondersoek te gaan.
Wat is die simptome
Ouer mans het ‘n vergroting van die prostaat te wyte aan ‘n nie-kankeragtige toestand, wat as goedaardige prostaat-hipertrofie bekend staan. Vroeë opsporing is asimptomaties in die vroeë stadium, dit word gewoonlik met roetine ondersoek opgespoor. Die simptome van sowel goedaardige as kwaadaardige gewasse is soortgelyk en soos volg:
- Moeilike en pynlike urinering
- Urineer meer dikwels, veral in die nag
- Swak stroom
- Bloed in die urine
Hoe word die diagnose gemaak?
'n Doktersondersoek word gedoen en vervolgens word reëlings getref vir enige verdere toetse of ondersoeke. Die dokter kan ook 'n verwysing doen na spesialiste vir verdere ondersoeke en of behandeling.
Volledige mediese geskiedenis en ondersoek word benodig asook bloedtoetse om PSA-telling (prostaat-spesifieke Antigeen) te bepaal. PSA is ‘n proteïen, vervaardig in die prostaat deur beide normale en abnormale selle. Dus kan die PSA-bloedvlakke verhoog wees in mans met ‘n goedaardige of kwaadaardige gewas van die prostaat.
Konsulteer asseblief 'n dokter of kliniek in geval van verhoogde PSA-resultate.
Waar kan ek getoets word?
Drs Laing, Soldin & Venter - PATHCARE (Patoloë) by Gloucesterlaan 1, George of Ryk Tulbaghstraat 4, Mosselbaai.
Swart, Marè en Vennote - AMPATH (Patoloë) by 8A Prins Vincent Vierkant, Langenhovenstraat of Ryk Tulbachstraat 6, Da Nova Mosselbaai
Of enige van die volgende mediese praktyke:
- MediCross - Da Gamastraat 2, Da Nova
- MediCross - Melkhoutstraat, Heiderand
- MediCross - Montagustraat 111, Mosselbaai
- Clicks Apteek, Langeberg Mall - Mosselbaai
- Groot-Brakrivier - Dr De La Harpe
- Hartenbos - Drs Van der Westhuizen & Vennote en Hartenbos Medies.
Vir meer inligting kontak gerus vir Engela van der Merwe at CANSA by 044 8744824 of evdmerwe@cansa.org.za