MOSSELBAAI NUUS - Danksy kreatiwiteit en omgee, het die professionele diens wat Creating Effective Families (CEF) en by name Gaenor Domingo, by die neonatale intensiewe sorgeenheid van die Mosselbaai provinsiale hospitaal lewer, nuwe momentum gekry.
Annemarie van Zyl het gelees oor die impak wat gehekelde seekatjies op die algehele herstelvermoë van vroeggebore babas in Denemarke het. Sonder om te aarsel het sy self begin hekel en haar handewerk aan Creating Effective Families geskenk.
Navorsing het getoon dat hierdie gehekelde speelding die naelstring simuleer en aan die vroeggebore baba 'n gevoel van rustigheid verskaf soos wat hulle in die baarmoeder sou ervaar het.
Dit dra by tot verbeterde asemhaling en reguleer hulle hartklop. Foto's van sommige van die neontale eenheid se babas wys duidelik hoe hulle hierdie "naelstring" vashou en dan rustig raak.
"Creating Effective Families is groot dank verskuldig aan Annemarie en hoop dat daar nog hekelaars is wat kan help hekel aan hierdie kosbare naelstringetjies," sê Karin Gildenhuys van Creating Effective Families.
Vir meer inligting, kontak Karin Gildenhuys (044 693 1092).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'