Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Bestaande ondergrondse infrastruktuur op Klein-Brakrivier en die area om Gouritsmond word telkens geteiken deur vermoedelik 'n sindikaat wat in dié gebiede bedrywig is.
Dit het tot gevolg dat inwoners, wat nie oor optiese vesellyne beskik nie, geraak word deur onderbrekings met hulle landlyn telefone.
FOTOGALERY: Kragkabeldiefstal op die optel
Die ondergrondse kabels is dikwels die teiken van koperdiewe aangesien die gesogte kabels baie koper bevat.
Volgens ingeligte bronne is Klein Brak en die Gouritsmond die plek waar die kabeldiewe opereer.
Die kabels word nie noodwendig daar uitgehaal nie maar daar is areas tussen bebosde gebiede waar die omhulsels van die kabels of afgebrand word of oopgesny word. Dit skep egter 'n verdere omgewings-besoedelings probleem met die gesmelte plastiek en omhulsels wat net so gelos word.
Die slote waaruit die kabels gehaal word, word ook oop gelos.
Vrydag, 2 Junie, is daar weer in die bosse naby Gouritsmond 'n plek opgespoor waar die diewe bedrywig is. Maandag is daar ook vir die tweede keer in Klein-Brakrivier 'n groot aantal van die kabelomhulsels en rolle koperdraadjies, wat reeds uit die omhulsels verwyder is, deur Telkom personeel verwyder. Soms vind hierdie misdade helder oordag plaas en lyk die diewe soos werkers met glimbaadjies aan.
Indien enigiemand sulke bedrywighede in hul omgewing sien gebeur, moet hul glad nie die betrokke persone nader nie, maar eerder hul naaste polisie kontak.
Die rolle koperdraadjies is ook op die toneel gevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’