MOSSELBAAI NUUS - “Nie in ons wildste drome sou ons kon raai dat die Mossel Bay Zipline so met ope arms deur die Mosselbaai-gemeenskap aanvaar en omarm sou word nie – skaars ‘n maand na die opening is die zipline (glykabel) reeds allemansbesit en dit is nie snaaks om te hoor wanneer mense van ‘ons’ zipline praat nie,” het Mika Lutchman, een van die drie direkteure onlangs aan die uitvoerende burgemeester en sy burgemeesterskomitee gesê.
Die Zipline se eienaars is genooi om hul ervaringe van die eerste maand van hul bedryf met die raadslede en uitvoerende bestuur van die munisipaliteit te deel.
“Die reaksie is oorweldigend, positief en verwelkomend, nie net kry ons positiewe terugvoer van diegene wat die fasiliteit gebruik nie, maar ook van inwoners en besighede.”
Volgens terugvoer het besighede in die omgewing hul omset met tot 250% in Februarie verhoog en berig veral akkommodasie-instellings dat die seisoen aansienlik verleng is. Die Punt-woonwapark het skaars plek vir die spreekwoordelike muis, en heelwat van die kampeerders het Mosselbaai as bestemming gekies juis omdat hulle die glykabel wil trotseer.
“Die Mosselbaaiers se Sondaguitstappie na die Punt het ietwat gewysig, nou besoek mense nie meer net oor naweke die area nie, maar wag met kamera of verkyker in die hand om die volgende avontuurlike besoeker aan die glykabel te sien en foto’s te neem. Roomysverkopers kan skaars voorbly met voorraad op ‘n mooi, warm dag en die restaurant by die onderste punt van die glykabel het in gewildheid toegeneem as voorkeurbestemming.
Wat Mosselbaaiers egter nie weet nie, is die belegging wat die maatskappy Mossel Bay Zipline in sy personeel maak.
Die gidse is handgekeur volgens die strengste standaarde en daar word ruim belê in verdere opleiding. Nie net word hulle letterlik touwys gemaak in tegnieke en vaardighede nie, maar lewensvaardighede, soos om ‘n neseier te bou, ‘n bankrekening te bedryf, om gereeld vir familie in ander dele van die land te voorsien en selfs om te leer om te swem of branderplank te ry, kry voorrang.
Een van die direkteure is al die inheemse tale magtig en word gepas as “Sisi” aangespreek – ‘n blyk van respek en waardering.
Mossel Bay Zipline verskaf tans werk aan sowat 31 persone en die gidse kry akkommodasie, etes en vervoer na en van hul werksplek as deel van hul vergoeding – daarom dus die aandrang op finansiële beplanning deur die direkteure.
Op die vraag watter oomblikke vir die direkteure as besonders uitstaan, antwoord hulle dat die wyse waarop Mosselbaaiers eienaarskap van hul droomkind geneem het, uitsonderlik is. Tog noem hulle ook die geval toe kwadrupleë en parapleë vir die ervaring aangeklop het. “My eerste reaksie was om nee te sê! Die regsaanspreeklikheid, die logistieke nagmerrie om hulle die trappe op en af te kry, die beplanning... Dit is toe my gidse sê: ‘Sisi, everyone deserves joy’ dat ek net nie kon nee sê nie.”
Daarbenewens het blinde persone, ‘n man van 94 en ‘n vrou van 92 die rit onderneem en twee jongmense het selfs na ‘n rit mekaar die ewige trou beloof. “Dis die absolute genot, die gille van plesier – en ‘n bietjie senuwees – en die glimlagte wat ‘n mens se dag maak.”
Die direkteure vertel ook van die gesin wat spesiaal vanaf Potchefstroom gevlieg het om hul oorlede ma se wens te verwesenlik. Sy wou dolgraag zipline, maar het weens kanker nooit die kans gehad nie. Die kans om hul ervaring – heel toevallig – met hulle te deel is iets wat altyd sal bybly.
Of dit is om self te gly en of dit is om net te kyk hoe ander hul drome uitleef, die Mossel Bay Zipline het ‘n besoek aan die Punt ‘n gans nuwe dimensie gegee.
Die direkteure het ook trots genoem dat, benewens spesialistoerusting soos die kabel en katrolle, die glykabel die produk van plaaslike kundigheid, materiale en vaardighede is.
Plaaslike ingenieurs het só ‘n puik produk gelewer dat dit aan beide nasionale en internasionale sertifiserings voldoen.
Veiligheidstoetse word daagliks, weekliks, maandeliks en ses maandeliks gedoen om aan die groep se eie en die internasionale voldoeningsvereistes te voldoen.
Twee van die drie direkteure van die Mossel Bay Zipline, Mika Lutchman en Albert Wiffen het onlangs hul ervaringe na die eerste maand van bedryf met die burgemeesterskomitee gedeel.
Oud en jonk het deesdae ‘n nuwe stokperdjie wanneer hulle die Punt besoek – om diegene wat zipline te fotografeer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'