Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Hoewel die skoolprogram vanjaar opnuut aangepas moes word, is Junie tradisioneel eksamentyd.
Met President Cyrial Ramaphosa se onlangse aankondiging van die Covid-19-regulasies wat vir die volgende twee weke na 'n aangepaste vlak 4 verander is, is die beplande toetsreekse by sommige plaaslike skole ook nou van die baan
Eksamenstres is egter 'n realiteit waarmee baie leerders en studente worstel.
Stefanie Minnaar, 'n pastorale narratiewe terapeut verbonde aan die Caritas Care Centre, Mosselbaai sê dat hierdie spanningsvolle oomblikke wat 'n toets- of eksamenvraestel kan veroorsaak, eintlik maklik hanteer kan word. Mits jy weet wat in jou brein gebeur en hoe om dit te hanteer.
Stefanie verduidelik dat die amigdala, oftewel die brein se alarmstelsel tydens 'n spanningsvolle situasie die oorsaak van die veg-, vlug- of vriesreaksie is.
Kyk 'n video hieronder:
Sy brei uit dat die pre-frontale korteks, wat eers teen 25-jarige ouderdom ten volle ontwikkel is, as die "CEO van die brein optree" en dus emosies en impulse beheer.
"Wanneer jy byvoorbeeld tydens 'n eksamen 'n blank slaan, sê ons jou amigdala pop. Jou adrenalien begin pomp, jou hart klop vinniger, jou bloeddruk neem toe, jy hoor niks. As tiener, is jou brein se CEO nog nie volledig ontwikkel nie."
Stefanie sê 'n mens het slegs 90 sekondes nodig om weer beheer terug te kry en die amigdala te kalmeer.
"Sit jou pen neer, maak jou oë toe. Haal diep asem, hou dit in vir 'n paar tellings in en blaas dit stadig en lank uit. Hoekom? Want dit maak jou hartklop stadiger en jou adrenalien neem af."
Ook daardie hol kol op jou maag voor 'n eksamenvraestel, het Stefanie 'n verklaring voor. "As gevolg van die spanning, gaan al die bloed na jou groot ledemate as deel van die veg- of vlugreaksie, dit is hoekom jy 'n hol kol het."
Stefanie sê verder dat hierdie tegniek in alle konfliksituasies of waar mense spanningsvolle oomblikke beleef, selfs deur volwassenes nuttig aangewend kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'