MOSSELBAAI NUUS - Volgens die Mosselbaai-munisipaliteit het wydverspreide neerslae die afgelope naweek groot verligting gebring en vir die eerste keer in meer as 'n jaar oorskry die Wolwedansdam die 60% vlak ruimskoots.
Mosselbaai se drinkwater kom grotendeels van die Wolwedansdam wat, ná die afgelope naweek se ruim neerslae, tot 68,10 % gestyg het, op van die 59,89 % 'n week gelede.
Hierdie tyd verlede jaar was die Wolwedansdam se vlak op slegs 52,88 %. Die afgelope week se invloei in die Wolwedansdam was sowat 63,40 mm. Na verwagting het al die afvloei na die naweek se reën nog nie die dam bereik nie.
Ook die Klipheuweldam het 'n toename getoon, met vlakke hierdie week op 54,47 % vergeleke die vorige week se 50,48 %, terwyl die Ernest Robertsondam steeds oorlopens toe vol is op 101,23 %.
Selfs die Hartebeestkuildam, wat vir jare reeds feitlik kurkdroog is, se watervlak het tot 4,63 % gestyg van 'n baie lae 2.2% verlede week.
Berigte van goeie, wydverspreide reën is ontvang. Willa Botes het uit Da Nova laat weet dat hulle 40mm gemeet het, uit Ruiterbos het Dancel Josephs gesê hulle het net meer as 50mm gemeet. Uit Heiderand het Analiese Derwort laat weet dat hulle 75mm in Swarthoutlaan gemeet het, terwyl Christof Van Tonder in 21 Laan totaal 68mm die afgelope twee weke aangeteken het. In Dibiki, Hartenbos het Lynette Prinsloo 40mm gemeet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'