Die peuter het op Sondag, 18 November in 'n swembad geval en het by die dood omgedraai voordat haar boetie, Stian, haar uit die water gered het.
Op Sondagmiddag, 18 November het die Van Rensburg gesin, Kados, Tania en hulle kinders, Brandon (16), Stian (8) en Kayla (3), saam met vriende, Jaco en Alet du Toit en hulle seu-ns gesellig by die swembad gebraai terwyl die kinders in die water baljaar het.
Omstreeks 17:00 was die ete gereed en die kinders het uit die water geklim. Kayla (3) het vir Tania gevra om haar waterarmpies af te haal, want hulle was klaar geswem en wou kom eet.
Dit is 'n streng reël dat die kinders, veral die kleintjies, nie mag swem sonder volwasse toesig of sonder opblaasarmpies nie. Die kinders het met 'n bal op die gras begin speel en die volwassenes het langs die swembad onder die lapa gesit vanwaar hulle 'n oog op die kinders kon hou.
Die volgende oomblik het Stian (8) om hulp geskree, terwyl hy vir Kayla uit die swembad lig – sy was toe reeds bewusteloos en blou in die gesiggie. Alles het in 'n oogwink gebeur, maar het soos 'n ewigheid gevoel.
Stian het later die aand vertel dat hy net gevoel het dat hy wou gaan swem. Toe hy verby die swembad stap en af kyk, sien hy Kayla onder die water dryf. Hy het ingespring, haar uitgelig en dadelik om hulp geskree. Hy het Kayla op die rand van die swembad neergelê en Kados en Jaco het onmiddellik begin om die water uit haar magie en longe te druk en ook met kardiopulmonêre resussitasie begin. Tania het hulle oudste seun, Brandon, (16) geroep om te help, want hy het onlangs 'n lewensreddingskursus deurloop en sou weet wat om te doen.
Toe Brandon buite kom, was Kados reeds besig met mond-tot-mond asemhaling, maar Kayla het steeds geen lewe getoon nie. Hulle het saam aan haar gewerk en Brandon het toe vir Kayla gebid en sy hande op haar gelê. Haar lyfie het geruk, sy het begin asemhaal en haar ogies oop gemaak.
Kados en Jaco het met Kayla na Life Bay View Hospitaal gejaag en Tania en Brandon het gevolg. Aangesien hulle vriendin, Alet, die hospitaal geskakel het, kon hulle onmiddellik met noodbehandeling begin.
Kayla het haar bewussyn herwin en kon selfs met hulle praat. Sy was vir 24 uur in ICU en is die Maandagmiddag na die kindersaal oorge-plaas, voor sy Woensdagoggend ontslaan is.
"Dit is 'n wonderwerk dat Kayla vandag lewe. Die Here het Stian op die regte oomblik na die swembad gestuur en sy vinnige optrede deur haar uit te lig en om hulp te roep, het verseker dat haar lewe gespaar is. Sy het volkome herstel, danksy die Here se bystand en genade," sê dankbare mamma Tania.

Klein Kayla sit hier by haar twee helde en lewensredders, haar ouer broers Stian (8) en Brandon (16). Haar broers het haar lewe gered toe sy onlangs in die swembad beland en byna verdrink het.