MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het onlangs 'n nuut-voltooide saal aan die gemeenskap van Wolwedans oorhandig.
Die gebou sal voortaan deur die vereniging gehuur en as dagsorgsentrum gebruik word om kinders met gestremdhede te versorg.
"Ons het baie uitdagings met vandalisme gehad. Ek doen 'n beroep op ons gemeenskap om eienaarskap te neem van die saal en ander soortgelyke fasiliteite sodat ons in ons kinders se toekoms kan belê.
"Fasiliteite soos hierdie bied vir hulle die geleentheid om tot hul volle potensiaal te kan ontwikkel," het raadslid Bayman tydens die amptelike opening gesê.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, asook die direkteur van beplanning en geïntegreerde dienste, Carel Venter, raadslid Cliffie Bayman, gemeenskapslede en verteenwoordigers van die Vereniging vir persone met gestremdhede, het die amptelike oorhandiging bygewoon.
Volgens direkteur Venter is die gebou deur die vorige behuisingskontrakteur opgerig as deel van sy sosiale bydrae tot die gemeenskap, maar is dit eers onlangs deur die munisipaliteit volledig ingerig en voltooi om as 'n dagsorgsentrum vir persone met gestremdhede gebruik te word.
Die gebou het ook erg onder vandalisme deurgeloop. Venter sê die gewone tenderprosedures is gevolg om onder meer nuwe krane te verskaf, 'n kombuisarea is ingerig en diefwering is aan al die deure en vensters aangebring.
"Vandag voel soos Kersfees. Ons droom al vir die afgelope twee jaar vir so 'n sentrum en vandag word ons droom waar. Groot dank aan ons Hemelse Vader en die munisipaliteit en amptenare asook ons personeel wat besef wat die nood is in ons gemeenskap," het Johan Cronjé, voorsitter van die Vereniging vir persone met gestremdhede, gesê.
Raadslid Cliffie Bayman het tydens die amptelike opening van 'n fasiliteit vir gestremde persone op Groot-Brakrivier 'n beroep op die gemeenskap gedoen om eienaarskap van die fasiliteit te neem en vandalisme te voorkom.
Tydens die geleentheid waar sommige van die kinders met gestremdhede teenwoordig was, het Juanita Smith, 'n maatskaplike werker verduidelik watter inisiatiewe by die dagsorgsentrum gedoen sal word.
Sy het haar dank aan al die rolspelers oorgedra.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'