MOSSELBAAI NUUS - Twee gewapende mans het Woensdag omstreeks 11:00 'n klerewinkel in die Mikeva-sentrum in Bill Jeffrey-rylaan, Heiderand beroof.
Polisiewoordvoerder, sers Chris Spies, het die voorval bevestig en sê 'n voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes in die winkel ingestap het en personeel met 'n vuurwapen gedreig het.
Die verdagtes het geld geëis voordat hulle met 'n onbekende bedrag kontant gevlug het. Spies sê die verdagtes het in 'n Toyota Quantum-minibus gevlug.
Die verdagtes is steeds op vrye voet.
Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak van besigheidsroof.
Die ondersoekbeampte in die saak doen 'n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat die polisie kan help om die verdagtes op te spoor.
Enigiemand met inligting kan die polisie by 044 606 2230 of Crime Stop by 08600 10111 kontak. Die ondersoek duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’