Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Waarskuwings van stormsterk wind en die waarskynlikheid van heelwat reën het feesgangers nie van die eerste aand van die Dias & Portfees by die Santos-area weggehou nie. Uithalervermaak deur veral plaaslike kunstenaars het sedert 16:00 mense op hul stoele vasgenael te hou.
Vandag se hoogtepunte
Vandag het die fees reeds om 08:00 afgeskop met die Wes-Kaap Lewensreddingstoernooi op Stantsstrand en om 09:00 sal die vlotteparade vanaf die munisipalite kantore via Georgeweg hul pad na die feesarena vind.
Om 10:00 word Dias se aankoms op Mosselbaai op die verhoog uitgebeeld alvorens die verhoogprogram van kulturele, volks en seremoniële danse volg. Soos gewoonlik belowe die danse deur verteenwoordigers uit Indonesië, Madagascar, Duitsland en Portugal en die Kanimombo optrede om besonder aanskoulik te wees. Danse uit plaaslike bodem, soos veral die Volkslape en Rieldansers se ritme, sal weer eens aansteeklik wees.
Moenie die vroegdagvertonings deur Onblusbaar, die Gumbootdancers of Aunty Ethel mis nie.
Feesgangers het nie van die eerste aand van die Dias & Portfees by die Santos-area weggebly nie ter midde van die weer.
Verhoogprogram
Op Vrydag het verskeie plaaslike kunstenaars sedert vroegmiddag inwoners na die feesterrein laat stroom. Vroegaand reeds het rye gevorm by die talle kosstalletjies en snuisterystalletjies en voorraad is aangevul vir die aandlange heerlike piekniek voor die verhoog met vermaak uit die boonste rakke.
Vanaand se verhoogprogram bied optredes deur onder meer Andriette, ADAM, Emo Adams, Arno Jordaan en Snotkop en vele ander groot persoonlikhede met nasionale aanhang.
Toegang tot die feesterrein en optredes is gratis. Die jongklomp kan hulle vermaak op die talle pretritte terwyl hul ouers die verhoogprogram geniet. Ekstra beveiliging is beskikbaar deur lede van die Mosselbaai Gemeenskapspolisiëringsforum wat 'n teenwoordigheid op die feesterrein handhaaf.
Kyk 'n video hieronder:
Plaaslike kunstenaars het die skare op hul voete gehad namate die aand gevorder het. Foto's: Grey Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'