Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaaier Willem le Grange, het die afgelope Saterdag, 1 April, 'n driekuns behaal toe hy vir die derde agtereenvolgende jaar by die Heidelberg Pampoenfees as die pampoenkoning gekroon is.
Le Grange hou nie net die rekord vir die grootste pampoen in die Suidelike deel van Suid-Afrika nie, maar hy hou tans ook die Suid-Afrikaanse rekord wat hy in 2021 asook verlede jaar by die Pampoenfees opgestel het.
FOTOGALERY: 'n Fees van 'n pampoen
Hy is ook die rekordhouer van die grootste pampoen in die Suidelike-Halfrond wat onder andere Australië insluit.
Le Grange het Saterdag sy eie SA-rekord van 904,5kg, net-net met 'n skamele 1,5kg gemis. Sy nuutste inskrywing, Weeskind, het die skaal Saterdag tydens die jaarlikse Pampoenfees op Heidelberg, op presies 903kg getrek en vir hom sodoende 'n hele R20 000 in sy sak besorg.
In 2021 het hy met sy pampoen Tornado van 867,5kg eerste geëindig en die SA-rekord van die vorige jaar van verbeter.
In 2022 het sy pampoen genaamd Sophia nie net sy eie SA-rekord verbeter nie maar weer eens is hy gekroon met Sophia as die grootste pampoen in die Suidelik halfrond en dra nog steeds die titel. Sophia het die skaal op 904,5kg getrek.
Hierdie jaar was die wêreld se pampoen-ambassadeur, Salvador Mogas van Spanje, ook in die land en het beide die kompetisie in die Noorde van die land en die Heidelberg se pampoenfees besoek.
Klein lappie grond
Le Grange doen die pampoen ding jaarliks as hy in September of Oktober op 'n klein lappie grond op die plaas, eers die pitte binnenshuis plant en ontkiem en dit dan later uitgeplant word.
Hy is die plaasbestuurder op die plaas op die Ruiterbosch Agri se avokado- en sitrusplaas waarvan Indigo Fruit Farming ook aandeelhouers is.
Hierdie jaar was egter nie sonder teenspoed nie. Op 6 Oktober 2022 ontkiem hy saad wat hy van een van laasjaar se pampoene geoes het. Die pampoen was 779kg.
Op 18 Oktober 2022 plant hy die saailinge uit op sy stukkie grond.
En toe kom die skade. Voor hy egter die plant kon bestuif, trap 'n kalwer wat by die kamp ingekom het, met sy hoef op die hoofstam en kneus die stam. Daarna moes daar omsigtig gewerk word om die pampoen deur sy normale groeiproses te help en te versterk.
Sy passie vir pampoene het by die einste skou op Heidelberg, waar hy die afgelope drie jaar gewen het, begin. "Ek het in 2020 by die stalletjies rondgeloop toe ek by die pampoene uitkom," vertel Le Grange. Volgens hom het hy toe navraag begin doen oor die pampoene, maar die mense daar was nie gretig om hulle geheime te deel nie. "Vir julle sal ek wys," was sy woorde en die jong beskeie man het toe begin navorsing doen oor die kweek van die reuse pampoene. Hy voer toe 'n paar pitte van die Atlantic Gaint-pampoene van die VSA in en met baie harde werk wen hy toe sy eerste kompetisie en verbeter sommer die SA-rekord van die wat hom nie touwys wou maak nie.
Waterige smaak
Ná so 'n kompetisie en nadat die pitte geoes is, word die vleis van die pampoene aan minder bevoorregtes geskenk.
Sy een pampoen wat nie ingeskryf is nie, het hulle Vrydag, 31 Maart na Laerskool Hartenbos geneem waar leerders die gewig van die pampoen kon raai. Dié projek was daarop gemik om geld in te samel vir die graad RR-klasse om ligte, wat tydens beurtkrag gebruik kan word, aan te koop.
"Die pampoene smaak maar bietjie waterig maar 'n man het my ook al kom vra vir pampoene waarmee hy kan stook," vertel Le Grange laggend. Met sy familie en vriende wat bankvas agter hom staan en 'n nuwe liefde in sy lewe, gaan hy volgende jaar sekerlik nie teleurstel nie.
Le Grange se groot doelwit is om die wêreldrekord van 1 226kg te verbeter. Dié rekord is in 2021 deur die Italianer Stefano Cutrupi in Tuscany, Italië, opgestel.
VIDEO - Willem se pampoen wen drie keer in 'n ry ( Video: Jannie du Plessis ).
Willem le Grange en sy Weeskind.
Weeskind is baie versigtig hanteer met die oplaai voordat die groot tog na Heidelberg aangepak is waar die Pampoenfees plaasgevind het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’