Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Plaaslike wildsboere Kobus Crous snr, Lee Vergottini en BJ Schutte se derde en unieke veiling van Suid-Kaap streeksaangepaste wild het die afgelope naweek flink verloop ondanks pogings om dit te ontspoor.
Crous het bevestig dat 'n saak by die polisie aanhangig gemaak is nadat nie net 'n boodskap op die vooraand van die veiling op sosiale media beweer het dat die byeenkoms afgeskaf is nie, maar 'n buitelugreklamebord langs die N2 moedswillig gevandaliseer is om die datum van die veiling te wysig.
Dit het meegebring dat sommige van die verwagte kopers die veiling misgeloop het en het 'n ongetwyfelde impak op die opbrengs van die verkope gehad.
Tóg, sê Crous, het die veiling hul stoutste verwagtinge oortref. Veral die lotte met springbokke het besonder goed verhandel en die teenwoordigheid van groot wildsboere wat ruim gekoop het om plaaslike voorraad aan te vul, het die veiling 'n goeie hupstoot gegee.
Kyk 'n video hieronder:
Die voordeel van streeksaangepaste wild, wat veral hartswaterbestand is, het die veiling boonop uniek gemaak vir plaaslike kopers. Southern Cape Game Breeders het slegs een genooide verskaffer se wild aangebied, die res van die meer as 70 lotte is plaaslike geteel.
"Hartswater is 'n haas onomkeerbare, dodelike siekte wat onder meer deur bosluise oorgedra word, die diere wat op die veiling aangebied was, het juis 'n weerstand daarteen," sê Crous.
Tydens die veiling het verskeie gaste hul dank uitgespreek vir die wyse waarop die veiling georganiseer is.
Natuurbewaringspersoneel was teenwoordig en kon kopers onmiddellik help om die nodige permitte uit te sorteer, die geleentheidspreker, Ken Coetzee van Conservation Management Services en wat aan die NMMU verbonde is, het kundige raad aan kopers en diegene in die bedryf gehad, en die keurig voorbereide veilingslokaal by die Garden Route Casino se Bravo Lounge en geskenkpakke met 'n volkleurprospektus wat vir elke voornemende koper beskikbaar gestel is, het heelwat komplimente uitgelok.
Die afslaer, Rikus Myburgh het op flinke wyse die veiling hanteer en heelwat lof is hom toegeswaai.
Nie net was baie van die kopers plaaslike wildsboere nie, maar groot nasionaal-gerekende wildsboere soos Piet du Toit, wat onlangs in die area gevestig het, het 'n beduidende invloed op die sukses van die veiling gehad. Crous sê wildsboere, soos ander kommersiële boere in die Suid-Kaap beleef tans 'n ongekende droogte wat 'n enorme uitdaging aan die bedryf stel.
Die driemanskap van Southern Cape Game Breeders is tevrede met wat vermag is tydens die derde wildsveiling - groter, meer interessante uitdagings wink vir hul vennootskap, asook die wildsbedryf wat reeds meer as 30 plase in die groter Mosselbaai insluit.
Die stukrag agter Southern Cape Game Breeders wildsveiling wat uitsluitlik wild van die Suid-Kaap verhandel het; Kobus en Lizelle Crous van Bergsig Game Breeders, Lee Vergotini Jnr, Danielle Vergottini, Maggie en Lee Vergottini van Blandsdrift Game Breeders, en Natasha en BJ Schutte van Berg en Dal Game Breeders.
'n Moedswillig foutiewe whatsapp het voorgegee dat die veiling gekanselleer is. Dié boodskap is aan 'n uitgebreide lys van Southern Cape Game Breeders-kontakte op die vooraand van die veiling gestuur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'