MOSSELBAAI NUUS - Verskeie wetstoepassers van die Mosselbaai-munisipaliteit het tydens die maandelikse raadsvergadering op 1 Augustus sertifikate van uitnemendheid van die raad ontvang.
Die eervolle erkenning volg op optrede in die uitvoering van hul pligte wat besonder lofwaardig is.
Wetstoepassers N Kiewiet, M Madikwa, V Frans, A Swanepoel en M van der Mescht is deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal bedank vir hul flink optrede wat 'n inbraak by munisipale eiendom gefnuik het. Wat hierdie optrede nóg meer prysenswaardig maak, is dat die wetstoepassers van diens was toe die misdaad opgemerk en flink hanteer is sodat die oortreder aangekeer en die belastingbetalers die skade van 'n waarskynlike diefstal gespaar is.
Hierbenewens het ander amptenare, wat tydens 'n vorige geleentheid soortgelyke sertifikate ontvang het, eervolle vermelding gekry. Hulle is erkenning gegee vir hul onbaatsugtige en voortreflike diens tydens die 2018 feestyd.
Die burgemeester het sy dank uitgespreek teenoor menere JS Breda, JJ Fitzgerald, CJ Genis, Z Gweleda, DN Ntaka, WD Potgieter en MB Qakancu.
Verkeersbeampte ZL Joka het 'n sertifikaat ontvang vir sy professionele en uitsonderlike optrede in die uitvoering van sy verkeerspligte.
Raadsheer Levendal het daarop gewys dat wetstoepassers 'n wesentlike bydrae lewer tot 'n veiliger omgewing.
"Ons wil investering na Mosselbaai lok, beleggers sal nie hul geld hier bestee indien 'n veilige omgewing nie heers nie. Misdaad moet bekamp word.
"Hierdie personeel het veel meer gedoen as wat verwag kan word; saans wanneer ander inwoners rustig slaap, werk hierdie amptenare om ons veiliger te hou. Vandag gee ons erkenning vir die hart en siel waarmee Mosselbaai-munisipaliteit se amptenare hul werk benader, vir hul werksetiek en positiewe ingesteldheid."
Munisipale wetstoepassers, verkeersbeamptes en ondersteuningspersoneel het op Donderdag, 1 Augustus sertifikate vir uitnemende diens van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal ontvang. Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'