TUINROETE NUUS - Die droom na onafhanklikheid vir die Wes-Kaap het luidens 'n verklaring deur die Verenigde Vryheids Alliansie (VVA), 'n noemenswaardige hupstoot gekry na onlangse gesprekvoering met die Cape Independence Forum (CIF).
Dié forum, bestaande uit rolspelers wat die onafhanklikheid van die Wes-Kaap ondersteun, het in Kaapstad met nasionale en internasionale lede van die VVA se uitvoerende komitee gesels.
Van die deelnemers het ingesluit Jack Miller, Frans en Jeanne Martins van die Cape Independence Party; Wolf Johannes van CapeXit; advokaat Carlo Viljoen, direkteur van USAF en Patrick Melly, uitvoerende hoof van die Greater City of Cape Town Civic Alliance.
Die vergadering is gekenmerk aan 'n konstruktiewe uitruil van positiewe energie, asook idees van ondersteuning en strategie om die onafhanklikheidsdoelwit te bereik. Sommige van die besprekings het gefokus op die uitdaging van toenemende arbitrêre beperking op die vryheid van Suid-Afrikaners aan die hand van die regering, die skerp grondwetlike konflikte wat hierdie beperkings inhou en die nadelige uitwerking hiervan op 'n sukkelende ekonomie.
Tydens hierdie informele byeenkoms is die deelnemenrs opnuut aangevuur vir die vorming van 'n eensgesinde dryfveer, met ander woorde 'n verenigde onafhanklikheidsbeweging, waar gepaste aksieplanne gesamentlik uitgevoer sal word.
Patrick Melly van die Greater City of Cape Town Civic Alliance het die gesprek beskryf as die eerste in 12 jaar wat daarop dui dat groter, verenigde samewerking 'n moontlikheid is.
"Byeenkomste soos hierdie is dikwels wensdenkery en 'n stryd om leierskap deur een dominante party. Tog was interaksie daarop gerig om 'n gesamentlike plan tot almal se voordeel te bespreek. Onafhanklikheid vir die Kaap is 'n kwessie van lewe en dood. Hierdie groep is toegewyd om die onafhanklikheidsdroom te bewaarheid."
Jack Miller van die Cape Independence Party het soortgelyke kommentaar gelewer.
"Ons het nog altyd geglo dat verenigde aksie kollektiewe sukses sal teweegbring. Vandag se gesprek was 'n positiewe teken in die onafhaklikheidsbeweging se groei."
Hein Marx van die VVA het dit duidelik gestel dat die tyd vir ydel praatjies lankal verby is. "Ons sien daarna uit om met ander partye en groepe saam te werk wat saam met ons erns neem om 'n permanente oplossing vir onafhanklikheid te vind."
Enige groep wat strewe na verenigde onafhanklikheid, besoek die Verenigde Vryheids Alliansie se webwerf by www.freethecape.org
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'