MOSSELBAAI NUUS - Drie wêreldrekords is in gedrang wanneer die avonturier en wêreldrekordhouer van formaat, Lukas Korff Juniemaand 2018 omtower in 'n Youth Fest. Boonop gaan die rekords spat ten bate van die John C Maxwell EQUIP-leierskapsprogram wat nou in Suid-Afrika geloods word.
Hierdie program is vir besighede bedoel, maar Lukas pas dit nou aan om in skole 'n impak te maak.
Die rekords in sy visier is om die grootste groep mense wat tegelyk gaan beat box op Vrydag, 15 Junie by die Josh Gen-ouditorium byeen te kry.
Daarna gaan hy die wêreldrekord aanpak vir die persoon wat die meeste keer 'n 50kg gewig onderwater - sonder asem - kan bench press. Dit gaan 'n unieke kouewater-ervaring wees waarin hy al sy asem sal moet uitblaas om onder water te bly terwyl hy repetisies met die gewig uitvoer. Dié byeenkoms sal op Saterdag, 16 Junie om 12:00 by die Diaz Waterpark plaasvind.
Steeds is dit het einde niet, want dan kom die volgende rekord ter sprake wanneer hy die vinnigste Boxing Mitt Combo om 14:00 by die Langeberg Mall gaan aanpak.
Lukas is nie bang vir uitdagings nie; hoe vreemder, hoe beter, telkens met 'n boodskap vir die jeug en boonop vir 'n goeie doel. Van die interessante rekords agter sy naam, is onder meer dat hy die gewilde Argus-fietswedren in Kaapstad binne die spertyd staande afgelê het - en nie een keer tydens die meer as 109km gesit het nie.
Hy het daarna vir ses ure aaneen 'n spinathon staande - bo-op 'n hyskraan - gedoen. Hy het 'n bokssak aaneen geslaan vir 26 uur en 10 minute.
Hy het 'n rystoel ge-wheely vir 10 ure aaneen bo-op 'n BMX-stellasie terwyl atlete bo-oor hom toertjies gedoen het. Hy het die langste hole in one putt in die wêreld op 115 meter gesink, en het ook onlangs om Suid-Afrika - staande - op 'n tandemfiets gery.
Lukas is 'n man met 'n missie wat jongmense inspireer sover as wat hy gaan, en hy het reeds die onderskeie gholfbane in en om Mosselbaai bekyk vir verdere geleenthede om wêreldrekords te laat spat.
Kontak hom gerus by 061 304 5610 om by sy uitdagings betrokke te raak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'