Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEOS - Mosselbaai se wenner-braaibroodjie deur Danabaaier Alida Stander (49) het die lig gesien na aanleiding van Mossel Bay Advertiser se braaibroodjie-kompetisie.
Alida het op Saterdag, 17 September as die wenner van die braaibroodjie-kompetisie weggestap.
FOTOGALERY: Braaibroodjie-Kompetisie iets anders
Die geleentheid is by die Koswerf Restaurant in Hartenbos gehou en burgemeester Dirk Kotzé en die sjef van die Artizaan Kombuis, Suzaan Rauch was deel van die beoordelaarspaneel.
Die Advertiser het meer as 30 inskrywings vir die kompetisie ontvang waarna vyf finaliste gekies is.
Die wenner van die kompetisie is Alida Stander met haar nagereg broodjie. Cathryn en Pieter le Roux se biltong-braaibroodjie het aan hulle die tweede prys besorg terwyl Heidi Serfontein die derde prys met haar vye en bloukaas braaibroodjie ingepalm het. Tanya Naude en Delmaine van der Merwe het die gesamentlike vierde prys verower. Tanya het onder meer vars kruie, spek en briekaas as vulsel gebruik. Delmaine het 'n groot braaibrood met 'n Ciabatta en onder meer roomkaas gebruik.
Nagereg braaibroodjie
Alida het 'n unieke nagereg braaibroodjie op die vuur gesit wat die beoordelaars se voete onder hulle uitgeslaan het. Die kombinasie van haar met lemmetjie gegeurde suiker, roomkaas en bloubessies met aarbeikonfyt was 'n smaakontploffing. Alida het dit verder met vanilla roomys en soutsjokolade bedien.
"Ek het geensins verwag om te wen nie. Ek het gesien die Advertiser hou 'n braaibroodjie-kompetisie en het besluit om 'n paar resepte te beproef. Omdat ek gedink het daar sou baie inskrywings van tradisionele braaibroodjies wees, het ek besluit om iets heeltemal anders in te skryf."
Geheime bestandeel
Alida se man, Hein (53) het slegs 3% sig en smake en geure is dus vir hom belangrik. "Hy het voorgestel ek skryf 'n soet braaibroodjie vir die kompetisie in. Ek het met smake rondgespeel. Toebroodjies met kaas en konfyt was as kind vir my lekker en vandaar het ek die idee gekry om die aarbei en bloubessiekonfyt te gebruik."
Alida het die skil van 'n lemmetjie in die suiker gerasper en dit is waarskynlik ook haar geheime bestanddeel. Sy sê dit is belangrik om witbrood wat 'n dag oud is, te gebruik sodat die brood nie uitmekaar val nie.
Kotzé het na afloop van die beoordeling gesê Alida se braaibroodjie is uitsonderlik en 'n heeltemal unieke eet-ervaring. "Ek het nie gedink die broodjie sal werk nie maar dit wat ek geproe het, was uitsonderlik."
Alida het 'n naweek vir ses mense wat deur ATKV-Hartenbos geborg is, gewen. Sy het ook 'n braaiplaat wat geborg is deur SSK Agri gewen.
Bestanddele vir die resep
- Dik gesnyde witbrood
- Roomkaas (kamertemperatuur)
- Gemengde bessiekonfyt
- Drie lemmetjies se skil fyn gerasper (laat dit droog word)
- Een tot twee koppies suiker
- Vanilla peul en/of 'n kaneelstokkie
Metode
- Maak die lemmetjie-suiker 'n paar dae vantevore sodat die geure kan ontwikkel. Gooi die lemmetjie by die suiker en seël in 'n lugdigte houer. Laat dit vir 'n paar dae staan.
- Roer ses eetlepels roomkaas met een tot twee teelepels lemmetjie suiker na smaak. Proe dit saam met die konfyt en balanseer die smaak.
- Smeer die snye brood met botter en smeer die lemmetjie-roomkaas en konfyt lekker dik op.
- Sit dit in die toeknyp-rooster en braai oor 'n matige vuur.
- Voor opdiening, strooi die warm broodjie met lemmetjie-suiker. Gebruik 'n gasvlam om te karameliseer of sit die broodjies weer terug op die rooster.
- Bedien met vanilla-roomys, skerwe sjokolade en vars vrugte.
VIDEO - Braaibroodjie-kompetisie - Koswerf Lapa (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser ).
VIDEO - Braaibroodjie-kompetisie - Die Finaliste (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser ).
VIDEO - Braaibroodjie-kompetisie - Die Beoordelaars (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser ).
VIDEO - Braaibroodjie-kompetisie - Round Table (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser ).
VIDEO - Braaibroodjie-kompetisie - Die Braai (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser ).
VIDEO - Braaibroodjie-kompetisie - Beoordeling en prysuitdeling (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser ).
Louise Karsten saam die wenners van die tweede prys, Cathryn en Pieter le Roux, burgemeester, Dirk Kotzé en suzaan Rauch. Die Le Rouxs se biltong-braaibroodjie het die beoordelaars beïndruk. Die Le Rouxs het 'n geskenkbewys van Brink & de Bruin Oogkundiges, ter waarde van R2 500 gewen.
Louise Karsten saam met die braaibroodjie-kompetisie se derde prys wenner, Heidi Serfontein, burgemeester Dirk Kotzé en Suzaan Rauch. Heidi se braaibroodjie het onder meer vye en bloukaas as bestandele bevat. Heidi het 'n wildsrit vir twee mense by Botlierskop gewen.
Beoordelaars Louise Karsten, burgemeester Dirk Kotzé en die sjef van die Artizaan Kombuis, Suzaan Rauch, kyk met verwondering na die wenner-braaibroodjie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'