MOSSELBAAI NUUS - Met 574 dae van Covid-19-noodregulasies agter die rug het baie besighede in die land groot finansiële verliese gely en in baie gevalle is personeel aan die dood tydens die pandemie afgestaan.
'n Plaaslike sakeman, Jacques Mostert het 'n tyd gelede met 'n projek genaamd Blessed to be blessed (blessedtbblessed) begin, wat maandeliks 'n gratis naambord aan 'n gelukkige besigheid verskaf.
"Covid-19 het besighede geknou en Signworx het met die inisiatief begin om in die gemeenskap terug te ploeg . Ons was in die afgelope 24 jaar goed ondersteun en skroom nie om ander besighede op hul voete te help in hierdie moeilike tyd nie," sê Mostert.
Die Mostert-familie is self hard getref deur Covid-19 na Mostert se suster 'n tyd gelede aan die Covid-19-virus oorlede is.
Elke maand word 'n trekking gedoen en dan kan die besigheid 'n gratis naambord saam met installasie wen. Die Augustus-wenner van die blessedtbblessed-projek was Van Niekerk Conradie Prokureurs.
Volgens Mostert is die volgende trekking die einde van September en motiveer hy al die besighede om te registreer vir die volgende 12 maande om in aanmerking te kom en aan die inisiatief deel te neem.
Vir enige navrae kan besighede vir Jacques kontak (083 778 7898).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'