MOSSELBAAI NUUS - Mufasa 'n Belgiese Malinois het geskiedenis gemaak by die Mosselbaai-munisipaliteit toe hy die eerste lid van die organisasie se honde-eenheid geword het.
Die honde-eenheid is deel van die munisipaliteit se uitgebreide planne om gemeenskapsveiligheid te verbeter in samewerking met ander strategiese vennote.
Mufasa, 'n reun van net oor 'n jaar oud, is aan die munisipaliteit geskenk toe sy eienaars emigreer.
James Gerber wat as sy hanteerder opgelei gaan word, kan kwalik sy geluk glo. Gerber is deel van die munisipale wetstoepassingsafdeling en hy wou reeds bittergraag vroeg in sy loopbaan met honde werk.
Sy pad het egter eers elders in wetstoepassing gaan draai.
Raadslid Leon van Dyk, portefeulje-voorsitter vir gemeen-skapsveiligheid het die ruimhartige skenking verwelkom.
"Die vestigting van 'n honde-eenheid is vir ons 'n groot prioriteit en samesprekings met die Dierebesker-mingsvereniging (DBV) is reeds in 'n gevorderde stadium om ons honde daar te akkommodeer."
Mufasa gaan tans by die DBV tuis. Hy en sy hanteerder begin volgende week met hulle opleiding wanneer 'n kundige van Overstrand-munisipaliteit Mosselbaai sal besoek.
Volgens Van Dyk sal enige ander Belgiese Malinois-honde, verkieslik reuns van minstens 'n jaar oud en in 'n goeie fisieke toestand, ook as skenkings verwelkom word.
"Indien enigiemand oor vervoerhokke beskik wat hulle nie gebruik nie, kan hulle dit gerus aan die munisipaliteit skenk. Enige geakkrediteerde honde-opleiers se hulp sal ook verwelkom word."
Ten slotte het Van Dyk genoem dat daar ook gesoek word na enige skeepsvraghouer wat reeds omskep of selfs net in 'n goeie toestand is, wat op die perseel van die DBV vir munisipale gebruik benut kan word.
Mufasa
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'