DANABAAI NUUS - Die voorwaardes vir 'n nood-toegangspad vir Danabaaiers is tydens die raadsvergadering op 24 November goedgekeur.
Danabaai het slegs een toegangspad en verskeie inwoners dring al vir jare aan op 'n alternatiewe toegangsroete (of nooduitgang) omdat die gemeenskap sedert 2016 herhaaldelik deur óf brande, óf openbare onrus in hul woongebied vasgekeer was.
Die voorwaardes wat goedgekeur is, het betrekking op voorwaardes vir 'n serwituut-ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die eienaar van die plaas Rietvalley waardeur die toegangspad sal loop.
Die projek sal weens uitstaande omgewingsimpakstudies teen 2025 geïmplementeer word. Vier staalhekke van minstens ses meter wyd en agt draadheinings sal onder meer op munisipale koste aangebring word.
'n Ooreenkoms dat die grondeienaar in kennis gestel word, sou Danabaaiers die pad moet gebruik, is ook bevestig.
Wyksraadslid vir Wyk 11, Nickey le Roux het haar dank uitgespreek aan die direkteur van infrastruktuurdienste, Dick Naidoo, die direkteur van beplanning en ekonomiese ontwikkeling, Carel Venter, en die hoofbestuurder van regsdienste, Niel Prins, vir hul ywer en harde werk om die projek deur te voer.
'Ons bring jou die nuutste Danabaai, Tuinroete nuus'