MOSSELBAAI NUUS - Gedagtig aan die aantal huis- en besigheidsrooftogte in Mosselbaai en omgewing, kan almal daarby baat om nie net meer bedag te wees nie, maar ook om beter toegerus te wees met die nodige kennis van hoe om op te tree sou jy die slagoffer van hierdie tipe misdaad word, aldus die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kapt Wollie Fourie.
"Veral aan die hand van die besigheidsroof by die Mosselbaai Bakkery onlangs, is dit noodsaaklik dat die publiek, veral die betrokke by die bestuur van ondernemings moet kennis neem van hoe om in sulke misdaadsituasies op te tree.
"Dit is ook belangrik dat hulle hul werknemers inlig. Rooftogte kan gewelddadig raak en daarom moet mense weerbaar wees sover moontlik."
Nuttige wenke
• Moenie rowers teësit nie. Doen presies wat hulle vra. Hulle is gewapen en in beheer van die situasie, moet dus nie hulle instruksies verontagsaam nie. Lewens is op die spel.
• Probeer ontspan en fokus op jou asemhaling. Haal diep in en uit asem, dit help om die hart stadiger te laat klop en verminder so angstigheid.
• Moenie jou stem verhef nie en praat stadig. Na alle waarskynlikheid is die rowers senuweeagtig en sal dit nie veel verg om hulle hul selfbeheersing te laat verloor nie.
• Vermy vinnige bewegings, jy sal bloot lewens op die spel plaas.
• Aktiveer slegs enige alarm as jy dit in die geheim kan doen, sonder dat dit luid afgaan. Dit kan rowers laat skrik en tot drastiese optrede lei.
• Moenie die rowers direk in die oë kyk nie, aangesien die rower mag dink dat jy sy gesig probeer memoriseer vir identifikasiedoeleindes.
• Gee rowers die kans om weg te kom. Vermy om te skree voor hulle die perseel verlaat het.
• Moenie heldhaftig wees deur die rowers te probeer stop om van die perseel te vlug nie.
Voorsorg
• Strategies geplaasde waarnemingskameras by ingangs- en uitgangsbeheer kan help dat verdagtes later geïdentifiseer kan word.
• Hou persele goed belig, binne en buite.
• Pas addisionele voorsorgmaatreëls toe tydens oop- en toemaaktye.
• Plaas statiese noodknoppies in strategiese areas op die perseel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'