MOSSELBAAI NUUS - In die lig van die huidige misdaadomgewing in Suid-Afrika, is dit noodsaaklik om persoonlike, asook eiendomsekuriteit en vele ander veiligheidsaspekte in heroenskou te neem.
In die lig hiervan het Herman Watney, wat vanaf 1983 tot 2000 betrokke was by een van die Suid-Afrikaanse intelligensie-instellings, aangebied om wenke met lesers van die Mossel Bay Advertiser te deel.
Watney het veral ervaring opgedoen ten opsigte van die veiligheid en sekerheid van persone en entiteite.
Vanaf 2000 tot op hede is Herman as adviseur werksaam in die privaat sekerheidsbedryf. Hy is die eienaar van 'n risikobestuur-maatskappy wat die veiligheid en sekerheidaspekte van persone en entiteite soos besighede, geboue, stoorfasiliteite, privaatwonings, behuisingslandgoedere en -komplekse, lughawens, hospitale, winkelsentrums en vele meer evalueer en aanbevelings maak oor hoe om risiko's te beperk.
Verder ontwikkel hy ook sekerheidsplanne vir nuwe geboue en persele.
Gedurende 2021 het Herman, na 26 jaar in Johannesburg na Mosselbaai verhuis, terug na die kusomgewing waaraan hy as kind gewoond was. Herman reis gereeld na ander dele van die land waar dienste verskaf word.
Hier volg die eerste in die reeks artikels oor veiligheid.
Vals gevoel
Wat beteken dit as ‘n persoon ‘n vals gevoel van veiligheid ervaar?
Dit kom daarop neer dat ‘n persoon veilig voel in omstandighede gebaseer op sy/haar waarneminge en persepsies, nieteenstaande die werklike onveilige of risikosituasies.
Die land is aan die gons oor Mosselbaai en omliggende gebiede. Nie net omrede die plaaslike munisipaliteit suksesvol is en dinge hier gebeur, maar ook as gevolg van die instroming van honderde gesinne van regoor die land.
‘n Ander onderwerp wat net so geesdriftig bespreek word, is hoe veilig dit in die dorp en omgewing is.
Ja, in vergelyking met die meeste van die res van ons land, is Mosselbaai en omgewing nog een van die veiligste areas.
Die vraag wat egter beantwoord moet word, is vir hoe lank gaan die status quo nog gehandhaaf word?
Ongelukkig, saam met groei, ontwikkeling en finansiële vooruitgang kom ongure elemente wat nie sal skroom om die hard verdiende binnelandse en plaaslike geldjies en besittings van persone en maatskappye te ontneem nie.
Hierteen moet ons ten alle tye waak en moet ons die voorbeeld van die munisipaliteit volg deur pro-aktief op te tree deur middel van ‘n platform daar te stel vir alle rolspelers in die sekerheidsbedryf om as ‘n eenheid saam te funksioneer.
Ongelukkig is die veiligheidsprofiel van Mosselbaai en omgewing besig om stadig maar seker te verander en die aanbeveling is dat die skulpies van die plaaslike besighede en inwoners se oë moet afval en dat die nodige positiewe en doeltreffende stappe geneem moet word om die sekerheidsrisikos doeltreffend te bekamp.
Die dae van “hier is nie eintlik ernstige misdaad in Mosselbaai nie”, is besig om soos sand in ‘n uurglas uit te loop.
Wat is die oplossing? Moet ons paniekerig raak en die bakkie brigades met tonne alarmstelsels, elektriese bedrading en kameras op ons laat toesak?
Die antwoord is ‘n besliste nee!
Wat is die oplossing/s?
• Bly kalm en dink rustig oor jou eie persoonlike en besigheidsomstandighede.
• Hoe belangrik is jou, jou gesin, werknemers en kliënte se veiligheid vir jou?
• Hoe belangrik is dit om die besittings en goedere wat in jou of jou besigheid se besit is, te beskerm?
• Watter maatreëls is tans in plek om jou met daardie beskerming en beveiliging te help?
• Indien daar enige twyfel is of die maatreëls genoegsaam is en of jy jou begroting ten opsigte van veiligheid en sekerheid effektief spandeer, is dit miskien tyd om hulp in te roep.
Die aanbeveling is om die hulp te bekom van ‘n onafhanlike sekerheids- en veiligheidsadviseur – meer hieroor tydens ‘n volgende berig.
Indien u enige navrae wil rig en met hom oor sekerheid en veiligheid wil gesels, kontak Watney (herman@unifiedrm.com).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'