MOSSELBAAI NUUS - Vier huisrooftogte gedurende 'n tydperk van 'n paar dae in die Da Gamaskop-polisiearea waaroor die Mossel Bay Advertiser in 'n vorige uitgawe gerapporteer het, het die polisie genoodsaak om die publiek opnuut te sensiteer om uiters bedag te wees.
Volgens die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kapt Wollie Fourie, het hierdie misdade veral plaasgevind tussen 21:00 en 02:00, maar daar was ook 'n voorval helderoordag tussen 12:00-13:00.
Twee voorvalle het in die De Bakke-omgewing, een op Louis Fourieweg naby Diasstrand en die vierde het in Aalwyndal op 'n kleinhoewe plaasgevind.
Goedere wat gebuit is sluit in kontant, juwele en selfone.
"In al vier voorvalle, is die slagoffers tuis verras deur die verdagtes en gedreig met vuurwapens, asook messe. Beserings is aangemeld, maar die emosionele letsels het die eintlike verreikende gevolge."
Kaptein Fourie het met die oog daarop om die gemeenskap te sensiteer, verskeie wenke verskaf. "Raak aktief betrokke by 'n buurtwag en neem deel aan inisiatiewe. Motiveer ook ander inwoners om dieselfde te doen."
Wenke om te volg indien jy tuis deur rowers oorval word:
- Moenie jouself teësit nie. Goedere kan vervang word, lewens nie.
- Probeer ontspan en kalm bly. Haal diep asem.
- Praat stadig. Moenie jou stem verhef en aggressief voorkom nie.
- Moenie enige vinnige bewegings maak nie. Doen wat die rowers vra.
- Moenie 'n alarm of sirene laat afgaan nie. Dit kan paniek veroorsaak en lei tot geweld.
- Gee die rowers tyd om weg te kom. Maak seker hulle het die perseel verlaat voor jy om hulp soek.
- Moenie heldhaftig probeer optree nie. Dit kan ernstige gevolge hê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'