TUINROETE NUUS - Die bykans onblusbare en wydverspreide brande wat Australië tans lamlê, is ongekend in terme in skaal en omvang, en die skadeberamings, duiselingwekkend, sê Cobus Meiring van die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI). "Miljoene hektaar kosbare landbou- en bewaringsgrond regoor Australië het afgebrand, derduisende diere het wreed doodgebrand en duisende huise is verwoes. Boonop is alle aanduidings tans dat die Australiese ekonomie 'n afwaartse neiging gaan reflekteer as 'n direkte gevolg. Dit beteken ook dat die brande nadelige langtermyn implikasies kan hê vir gemeenskappe wat moet opstaan uit die verwoesting."
Meiring verwys na die brande in Australië en sê inwoners van die Tuinroete moet oplet na die gevaartekens. "Die Tuinroete self is geen vreemdeling in die oorkoming van natuurlike rampe soos die 2017 en 2018 brande nie. Selfs drie jaar na hierdie verwoestende brand, is dit steeds nie moontlik om die werklike skade van die Knysna-brande te bepaal nie. Hoewel kleiner in skaal as die Australiese ramp, was die 2017/2018 Knysna- en Outeniekwa-brande inderdaad omvangryk en verwoestend vir die plaaslike inwoners en die ekonomie."
Tuinroete deur veldbrande geteister
"Buiten die skade aan infrastruktuur soos grensdrade, besproeiingsnetwerke, kommunikasie-infrastruktuur, boorde en plantasies, was die skade wat aan die Tuinroete se biodiversiteit aangerig is, omvangryk. Skade aan biodiversitiet is dikwels moeilik om te bepaal, maar die verlies aan plantspesies wat dikwels totaal uitsterf weens te veel brande oor 'n kort tydperk, insekte, reptiele, voëls en so meer, is insiggewend."
Volgens Meiring word die Wes-Kaap, insluitend die Tuinroete, gereeld deur veldbrande geteister wat meestal kwaadwillig of nalatig van oorspong is.
"Die enigste rede waarom die Tuinroete nie tans 'n buitengewone hoë brandsyfer toon nie, is omdat meer as 200 000 hektaar die laaste aantal jare afgebrand het en derhalwe is daar soveel minder biomassa in die area beskikbaar om te brand."
Hy sê die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en sy vennote wat deel vorm van die Tuinroete-omgewingsforum, is aktief besig om grondeienaars by te staan en aan te moedig om die hergroei van indringerplante te bekamp en te beheer ten einde 'n herhaling van die 2017/18-brande te bewerkstellig".
"Die Tuinroete kan beslis nie 'n herhaling van die 2017-brande bekostig nie," sê Meiring. Hy doen 'n beroep op grondeienaars en grondbestuurders om toe te sien dat hulle eiendomme voldoen aan alle wetlike voorskrifte. Hy versoek grondeienaars om alles in hulle vermoë doen ten einde die Suid-Kaap te beskerm teen die alomteenwoordige risiko van wegholveldbrande en die verwoesting wat dit meebring.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'