Video
HERBERTSDALE NUUS - Te midde 'n week waartydens Suid-Afrikaners deur uiterste kriminaliteit geteister is vanweë die strooptogte in verskeie provinsies, is daar goeie nuus vir die inwoners van Herbertsdale wat uiteindelik weer met 'n volwaardige polisiestasie sal kan spog.
Daar is in die verlede gereeld berig oor die toedrag van sake op Herbertsdale wat deur die reeds oorlaaide KwaNonqaba-polisiestasie gediens moes word.
Juis daarom was dit 'n groot oomblik toe brigadier Phumzile Cetyana, die bevelvoerder vir die Da Gamaskop-polisiesone op Dinsdag, 13 Julie die nuwe bevelvoerder van die Herbertsdale-polisiestasie, ao JC Brink en twee van sy sektorlede, sers Christopher Mars en kst José Cunha, aan die uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en waarnemende munisipale bestuurder, Colin Puren voorgestel het.
Kyk 'n video hieronder:
Goeie nuus
"Herbertsdale is as 'n spesiale prioriteitsprojek van die provinsiale kommissaris geregistreer. Die polisiestasie sal as volwaardige satellietkantoor van die KwaNonqaba-polisiestasie funksioneer. Daar is reeds personeel, voertuie en infrastruktuur beskikbaar gestel, die rekenaarnetwerk is behoorlik gekoppel en volgende sal ondersoekbeamptes aangewys word," het Cetyana verduidelik.
"Uniformlede, sowel as reserviste sal die gemeenskap bedien. Sersant Johan Taljaard, bevelvoerder van die landelike sektor, sal steeds in die landelike gemeen-skappe werk en die stasie sal steun op die vier buurtwag-groepe, plaaswag-groepe, asook die landbouverenigings en hul lede."
Cetyana het ook gesê dat die opleiding van diegene betrokke by die Community in Blue-inisiatief, hangende die Covid-19-inperkings, binnekort sal voortgaan.
Die Herbertsdale-polisiestasie sal die areas noord van die N2, insluitend Buisplaas bedien, terwyl KwaNonqaba-polisiestasie steeds na die gemeenskappe van Vleesbaai en Boggomsbaai sal omsien.
Aanvoorwerk
Die Mosselbaai-munisipaliteit het, soos voorheen berig, op hul beurt ook moue opgerol aangaande dienslewering om gemeenskappe te beveilig.
Raadsheer Kotzé het brig Cetyana en die SAPD bedank vir hul inisiatief om die polisiestasie weer te heropen. Kotzé het benadruk dat die munisipaliteit goeie, effektiewe verhoudinge met alle belangegroepe nastreef en het die versekering gegee dat die munisipaliteit graag met die SAPD saamwerk ter wille van gemeenskaps-veilighed. "Mosselbaai-munisipaliteit werk besonder hard om gemeenskaps-veiligheid vir álle gemeenskappe te verbeter. Die Herbertsdale-polisiestasie gaan 'n wesenlike verskil maak om inwoners veiliger te laat voel."
Raadslid Leon van Dyk, wat baie betrokke by die aanvoorwerk was, sê die jongste inisiatief is tekenend van die goeie werksverhouding tussen die Mosselbaai-munisipali-teit en die plaaslike bevelskader van die SAPD.
Hoewel harde werk voorlê om die polisiestasie op Herbertsdale weer tot sy volle reg te restoureer, spreek ao Brink die begeerte uit dat beide die gemeenskap en die polisielede, trots op hul stasie sal kan wees.
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'