MOSSELBAAI NUUS - Met die vakansieseisoen voor hande is daar min dinge so lekker as om die wind in jou hare te voel terwyl jy in 'n afslaankapmotorjie - soos byvoorbeeld 'n Beach Buggy - rondrits.
Vanjaar word hierdie prettige motortjies se spesiale dag weer op 18 Desember aangebied.
"Ons kom bymekaar agter Salt & Copper-restaurant oorkant die helipad op die R102 en vertrek om 09:00," berig Gavin Grierson van South Cape Buggys.
Op versoek van die deelnemers sal daar vanjaar 'n langer roete gery word.
"Ons ry vanaf Hart en Bosch op die ou pad na Groot-Brakrivier en daarna na Friemersheim. Dan weer terug met dieselfde pad, oor die spoor in die rigting van die Eiland en Glentana waar ons by die parkeerarea van die Visgraat-restaurant die pad terug Oppispoor toe sal vat, waar die roete dan eindig."
By Oppispoor sal die voertuie besigtig kan word. Volgens Grierson mik hulle om vanjaar 40 buggys te wees.
Vir meer inligting, kontak Gavin Grierson deur 'n e-pos te stuur na gavin.grierson@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'