MOSSELBAAI NUUS - 'n Brief is vandeesweek aan die LUR van plaaslike regering en omgewingsake, minister Anton Bredell gestuur waarin die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee die provinsiale regering om hulp vra vir die hantering van die droogte in die Herbertsdale-omgewing.
Herbertsdale se gemeenskap begin die effek van die knellende droogte besef. Weke lank reeds word drinkwater na die area met twee watertrokke aangery omdat die dorp se bestaande boorgate nie meer die vier reservoirs se watervlakke kan handhaaf nie.
Vanaf die komende week sal waarskynlik drie watertrokke ingespan moet word.
"Die munisipaliteit monitor elke boorgat se lewering asook die watervlakke van die reservoirs op daaglikse basis. Water uit die bestaande boorgate, wat relatief vlak is, slaag net nie meer om die reservoirs te hervul tot op aanvaarbare standaarde nie. Reservoirs behoort watersekerheid vir 48 uur te kan handhaaf, en tans word minder water opgegaar as wat verbruik word," het Mosselbaai-munisipaliteit se bestuurder (Water en Sanitasie) Eric Louw tydens 'n openbare vergadering op Dinsdag, 5 Maart aan inwoners van Herbertsdale verduidelik.
Nie net Herbertsdale
Louw het benadruk dat die droogte uiteindelik nog meer knellende omstandighede op Herbertsdale meebring en het daarop gewys dat streng waterbeperkings moontlik eersdaags almal in die groter Mosselbaai se voorland is.
"Spesialiste het onlangs die Herbertsdale-omgewing besoek en drie punte geïdentifiseer waar bykomende boorgate binnekort gesink kan word. Die vlakker bestaande boorgate put hoofsaaklik uit die rivier se grondwater, die aanbeveling is daarom dat heelwat dieper, to sover as 120 meter geboor sal moet word om die werklike ondergrondse waterbrond te kan benut.
Een van die voorgestelde boorgate sal naby die dorp gesink word, terwyl die ander twee wat in die vooruitsig gestel word, sowat vyf kilometer buite die dorp sal wees, wat meebring dat 'n pyplyn water tot in die dorp sal moet bring."
Louw het bygevoeg dat nie in die huidige boekjaar vir die aansienlike addisionele koste begroot is nie. Die raad sal daarom oor die kwessie genader moet word vir 'n besluit.
Besef die probleem
Louw het inwoners gevra om uiters spaarsamig met drinkwater te werk.
"Dit is my werk om te verseker dat die krane nie droog word nie. Die gemeenskap moet egter help.
Daar is verskeie goeie wenke, onder meer om gryswater na gebruik van 'n bad of stort na die tuin te herlei; om druppende krane vinnig reg te maak en lekkende munisipale infrastruktuur dringend aan te meld.
"Onlangs is inwoners gevra om vrywillig minstens 10% van hul waterverbruik te bespaar. Inwoners sal egter beter as dit moet doen en ag slaan op versoeke om water te bespaar. Verskeie inwoners het die geleentheid gebruik om vrae te vra en het selfs met interessante voorstelle vir besparingsmaatreëls gekom. Die munisipaliteit is ook bedank vir die gespreksgeleentheid en voorsorgmaatreëls wat in plek gestel word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'