MOSSELBAAI NUUS - Die Fix-a-Drip-program gaan binnekort in Mosselbaai 'n werklikheid word.
Charles Basson en Susan Botha van die *Gourits Groepsbiosfeerreservaat (GCBR) het toestemming van die Mosselbaai-munisipaliteit gekry om die program ook hier te implementeer.
“Die projek staan bekend as A Spring Party for Mossel Bay,” sê Basson. “Ons wil vreugde bring deur water suksesvol te bespaar.”
Botha en Basson het tydens proefprojekte in Oudtshoorn en De Rust bevind dat gemiddeld R365 nodig is om een huishouding se watergebruik te verminder deur ‘n kleiner toiletbak te installeer en lekkende krane te herstel.
“Die grootste waterbesparing vind by die eindverbruiker of huisbewoner plaas,” sê Botha.
"Toiletbakke met ‘n inhoudsmaat van nege liter word vervang met ‘n 6 liter-bak en verstel om slegs drie liter water te spoel, en lekkende krane word herstel.”
Waarde van waterbesparing
Volgens Botha is die belangrikste juis om inwoners in te lig oor die metodes en noodsaak van waterbesparing.
“Hulle verstaan die beginsel wanneer hulle besef dat hul rekening aan die einde van maand laer is.”
Mosselbaai-munisipaliteit het ‘n aantal mense in sy Community Works Programme (CWP) wat twee dae per week vir die munisipaliteit werk.
Die munisipaliteit het ook ‘n loodgieter aangestel, met wie Botha en Basson sal saamwerk om lekkende krane te herstel en groot toiletbakke met kleineres te vervang.
“Ons wil ses vroue van die CWP aanstel om die ander drie dae van die week ‘n opname te maak van lekkasies tussen die aansluiting en die huise.
"Hulle sal opgelei word om inwoners bewus te maak van die voordeel van waterbesparing en sal bemagtig word om op te let na watervermosing en dit aan te meld,” sê Botha.
Gemeenskapsbetrokkenheid
Die gemeenskap sal tydens agt werksessies bewus gemaak word van klimaatsverandering, waterbesparing, energiebesparing en rommelbestuur.
Dit sluit onder meer in die gebruik van Wonderbags, ‘n materiaalsak wat gevul is met ‘n swak hittegeleier en waarin kos wat tot kookpunt gebring is, verder deur die bestaande hitte gaar word.
“Die voordeel van die Wonderbag moet prakties demonstreer word, want vir hierdie inwoners is tydbesparing belangriker as die besparing van elektrisiteit – hulle ontvang immers deernis-toelae vir water en elektrisiteit.”
*Die GCBR is ‘n nie-winsgewende, nie-regerings instansie wat hom beywer vir die bewaring van die ekologie en natuurlike hulpbronne in dorpe, formele en privaat bewaringsgebiede van Baviaanskloof tot die Gouritzrivier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'