MOSSELBAAI NUUS - Sekuriteitspersoneel by die Langeberg Mall het die polisie bygestaan in die vastrek van 'n vrou (34) wat Donderdagmiddag, 7 Maart by die sentrum vir winkeldiefstal betrap is.
Die vrou, oorspronklik van Kaapstad, het glo in 'n drankwinkel by die sentrum ongeveer R3 700 se goedere gesteel.
Videomateriaal het aangedui hoe die vrou glo vyf bottels duur vonkelwyn in haar klere versteek. Die sentrum se sekuriteitspersoneel het haar onder arres geneem en sy is later aan die Da Gamaskop-polisie oorhandig.
Dit blyk by verdere ondersoek asof die vrou tans op parool is. Die voorval het omstreeks 17:00 plaasgevind. Kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie het die voorval bevestig.
Tyrone Stoffels, hoof van sekuriteit berig dat sy personeel ook ander sukses behaal het toe hulle 'n besoeker uit Limpopo wat sy selfoon in die publieke toilette vergeet het se eiendom opgespoor en terugbesorg het. Die foon is na 'n kort ondersoek op dieselfde dag in KwaNonqaba opgespoor. Die man se bankkaarte, wat in die selfoon se omhulsel gehou is, is ook teruggevind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'