MOSSELBAAI NUUS - Volgens Missing Children South Africa, 'n organisasie wat ouers en gesinne van vermiste kinders bystaan, word 'n kind elke vyf uur in Suid-Afrika as vermis aangegee.
Hulle staaf wel dié stelling op 2013-polisiestatistiek, wat ook dui dat sowat 77% van kinders suksesvol opgespoor is teenoor die 23% van onafgehandelde gevalle. Die jongste syfers lyk waarskynlik anders maar bevestigde inligting is nie beskikbaar nie.
Meld onmiddellik aan
Daar bestaan geen reël dat die polisie se hulp eers ná 24 uur ingeroep kan word nie. Indien 'n kind vermis word, kontak onmiddellik die plaaslike polisiestasie en voltooi die SAPD 55-vorm om die vermiste persoon aan te meld. Die Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe-eenheid (GKS) in Adriaansrylaan in Aslapark naby die Thusongsentrum kan genader word. Die South African Human Trafficking Hotline (0800 222 777) kan gekontak word.
Verskaf soveel moontlike inligting aan die polisie; die kind se name, kleredrag waarin die kind laas gesien is, name van vriende of gewilde kuierplekke waar die kind gereeld kom, waar die kind laaste gesien is, name van persone in wie se geselskap die kind was voor die verdwyning. Meld enige misverstand of rusie met die kind wat dalk kon meebring dat die kind self sou wegloop. Dit mag wees dat die kind se verdwyning aan 'n misverstand toegeskryf kan word.
Met die betrokkenheid van 'n netwerk van ervare buurtwaglede en toegewyde gemeenskapspolisiëringsforums is kanse op suksesvolle opsporing soveel groter wanneer 'n vermiste kind onmiddellik aangemeld word.
Wenke
Ouers kan meer voorbereid wees deur werklik hul kinders se vriende te ken. Hou tred met kinders se afsprake en bewegings. Maak 'n lys van kontaknommers van alle vriende en hou dit byderhand. Hou onlangse, herkenbare foto's beskikbaar om, indien nodig polisie met uitkenning te help.
Leer kleiner kinders om hul huisadres en ouers se kontaknommers uit hul kop ken.
Besoek missingchildren.org.za vir nóg goeie wenke.
Voorvalle
Die skakelbeampte van die Gemeenskapspolisiëringsforum in Mosselbaai, Peggy Roux bevestig dat geen voorvalle van kinderontvoering nog in die groter Mosselbaai aangemeld is nie.
Volgens mediaberigte ondersoek die polisie in die Wes-Kaapse Skiereiland wel vier gevalle van kinderontvoering: Ondersoeke vorder na die verdwyning van 'n agtjarige meisie van Bishop Lavis wat in Goodwood as vermis aangegee is, maar weer met haar familie herenig is; 'n leerder wat in Zonnebloem in Kaapstad op pad skool toe ontvoer en verkrag is; 'n negejarige meisie wat dood aangetref is in Kraaifontein nadat sy op pad skool toe verdwyn het; en die Steenberg-polisie ondersoek 'n klagte van verkragting van 'n 15-jarige leerder.
Talle gerugte wat aanlyn die ronde doen, onder meer deur video's op sosiale media, is óf nie by die polisie aangemeld nie, óf as vals bewys. Roux maan lesers om versigtig wees vir boodskappe op sosiale media. "Dit veroorsaak baie onnodige paniek. Kontak die polisie of buurtwagvoorsitter om gerugte te bevestiging voor boodskappe verder versprei word."
Enigiemand kan deesdae inligting wat geloofwaardig mag voorkom, maar nie die waarheid is nie, aanlyn op sosiale platforms opdis. Gevalle van opsetlike versinsel is wel ondersoek en die skuldiges het aanlyn om verskoning gevra vir die paniek wat hulle veroorsaak het.
Pasop vir paniek
Ouers kan nie oorversigtig met die veiligheid van hul kinders wees nie, veral nie weens toenemende panieksaaiery op veral sosiale media nie.
Onlangse berigte oor 'n wit voertuig met insittendes wat blykbaar kinders by plaaslike skole sou dophou blyk onbevestig.
Polisiewoordvoerders het onlangse berigte weerlê van 'n voorval in die Oos-Kaap waar kwansuis 'n busvrag met ontvoerde kinders voorgekeer is. Volgens die polisie het die bussie wel onwettige immigrante vervoer en word die saak verder deur die Valke ondersoek.
Twee onlangse voorvalle in Mosselbaai waar leerders as vermis aangegee is, was die gevolg van misverstande. Soos die spreekwoord lui: "Better safe than sorry", daarom word ouers, familie en vriende gevra om onmiddellik professionele hulp in te roep.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'