MOSSELBAAI NUUS - Lizette Loots, stigter van die Vuurvliegie-projek is op 17 Julie in die Geneva-kliniek, George oorlede.
Dié projek wat in November 2006 deur Lizette, Dassie Barnard en Marietjie Loots gestig is, se doel was om mense bewus te maak van die verskillende projekte, nood ensomeer binne die plaaslike gemeenskap om sodoende geleentheid te skep vir betrokkenheid.
Die naam Vuurvliegie is gekies, omdat 'n klein liggie in 'n donker nag mens hoop kan gee. Hoe meer mense betrokke raak en Jesus se lig in hulle werk, word die lig meer en word die donkerte verdryf. Vandaar die leuse: "Wees lig, gloei vir Jesus."
Lizette, een van 'n tweeling, is oorspronklik van Odendaalsrus, Vrystaat en het in Welkom grootgeword. Sy het ook 'n broer en suster. Haar broer woon en werk in Los Angeles in die VSA en haar suster is 'n onderwyseres op Groot-Brakrivier.
Lizette het Afrikatale (Suid-Sotho en Zulu) bestudeer en haar Meestersgraad in Afrikataal-taalkunde behaal. Sy het ook haar Hoër Onderwys Diploma behaal.
Sy was werksaam as 'n studente-assistent in die departement Afrikatale en was later 'n deeltydse lektrise in die departement Afrikatale aan die Vrystaatse Universiteit. Gedurende die dag het sy by die departement onderwys en opleiding gewerk en in die aande klas gegee vir tweede- en derdetaalsprekers in Zulu en in Suid-Sotho.
Sy het ook as personeel praktisyn in die menslike huplbronne-afdeling by die departement in Bloemfontein gewerk, en is later bevorder na die Welkom Distrikskantoor as voorsieningsadministrasie-beampte.
Op 30 jarige ouderdom in Februarie 1997 is sy bevorder as ddjunk-direkteur: administrasie. Hier was sy deel van die distrikskantoor se topbestuur en in beheer van die personeel- (menslike hulpbronne), arbeidverhoudinge -, finansies-, voorsieningsadministrasie- en vervoerafdelings. Sy was ook deel van die distrikskantoor van Vrystaatse Onderwys se breë bestuurspan. Daar was 640 skole wat die distrikskantoor bedien het. In hierdie tyd het sy ook begin met haar deeltydse studies vir die LLB-graad aan Unisa. Sy was ook aktief by haar kerk betrokke.
In 2003 het sy siek geword en 'n breingewas is in Maart 2004 ontdek, waarna sy met breinkanker gediagnoseer is. Die gewas is in 2004 in Bloemfontein verwyder. 'n Gedeelte kon egter nie verwyder word nie en sy moes bestraling kry. Sy het na haar ouers in Groot-Brakrivier verhuis om in George verdere behandeling te kry.
Haar gesondheid het 'n verdere knou gekry toe sy met rumatoïde artritis asook diabetes gediagnoseer is. Hierna is sy deur haar werkgewer medies ongeskik bevind om te werk en het in 2005 uit diens getree. Lizette het oor die jare die Here al die eer vir haar lewe gegee - sonder Hom en Sy liefde sou sy nie die pad kon loop nie. Vir 14 jaar, het hierdie merkwaardige vrou 'n verskil in baie mense se lewens gemaak deur bemoediging en ondersteuning - emosioneel sowel as finansieël.
Sy het ook in hierdie tyd haar ouers gehelp om haar ouma, Dassie Barnard te versorg tot met haar dood in 2014. Lizette het omgegee vir mense. Haar familie was vir haar baie belangrik. Tot op die laaste het sy nog almal se welsyn op die hart gedra.
In 2016 is daar weer 'n breingewas by Lizette gevind en is dit gedeeltelik verwyder. Sy het chemoterapie gekry tot Augustus 2017, maar in Februarie 2018 was die gewas terug. Sy is tuis versorg totdat sy op 12 Julie in die Geneva-kliniek in George opgeneem is. Die troosdiens vir Lizette vind op Saterdag, 21 Julie om 11:00 by die NG Kerk Groot-Brakrivier plaas.
Die familie bedank almal vir al die boodskappe, ondersteuning en liefde vir Lizette - veral in die afgelope 23 maande.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'