MOSSELBAAI NUUS - Hoewel die Kaap St Blaize-vuurtoring in Mosselbaai een van die vyf oudste vuurtorings in die land is, het dit nie monument- of erfenisstatus nie.
Boonop blyk dit dat die toring van die vuurtoring nie sonder meer vir besoekers toeganklik is nie.
Teenstrydig met sommige toeriste se ondervinding, sê die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA) toerismebestuurder: vuurtoringbesprekings, Tasneem Jacobs, Mosselbaai se Kaap St Blaize-vuurtoring is wel onbeman, maar die terrein is steeds vir toeriste toeganklik.
Jacobs maan egter Mosselbaaiers in die toerismebedryf om vooraf te verseker dat iemand wel beskikbaar is om toeriste op 'n begeleide toer van die vuurtoring te neem.
Maak eers seker
"Die TNPA se kernbesigheid is nie toerisme nie en weens 'n besigheidsbesluit is daar nie meer toegewese personeel om toeriste by die vuurtoring te ontvang nie. Daar is 'n paar van die 45 vuurtorings in Suid-Afrika wat geheel ontoeganklik vir besoekers is, maar Mosselbaai se vuurtoring is nie een daarvan nie.
"Ons nooi daarom diegene in die toerismebedryf om vooraf seker te maak of die vuurtoring self toeganklik is voordat gaste daarheen verwys word," sê Jacobs.
Sy wys daarop dat toeriste wel tot die perseel toegang kan kry, maar nie noodwendig tot die toring nie, wanneer daar nie personeel is om hulle te begelei nie.
Die Kaap St Blaize-vuurtoring, wat uit 1864 dateer, is 'n ikoon in die plaaslike toerismebedryf. Nie net toring dit uit bo die St Blaize-grot wat in Februarie 1999 tot 'n erfenisterrein verklaar is nie, maar dit speel ook hekwag vir die ewe indrukwekkende en gewilde St Blaize-wandelroete.
Dit is in daaglikse gebruik en sy geoutomatiseerde lig is vir 25 seemyl sigbaar.
Die Kaap St Blaize-vuurtoring, een van die vyf oudste vuurtorings in die land, is nie 'n verklaarde monument of erfenisterrein nie.
Foto: Mark Holden
Ironies genoeg is die vuurtoring egter nog nie tot erfenisterrein verklaar nie. Slegs drie van Suid-Afrika se vuurtorings het erfenisstatus.
Die voorsitter van Mosselbaai se Erfenisstigting, Carina Wiggel, sê toeganklikheid tot die vuurtoring as 'n toeriste-aantreklikheid is wel 'n item op die stadsvernuwingsprogram.
"Toeriste, insluitend besoekers van passasierskepe wat in Mosselbaai aandoen, word dikwels in Montagustraat aangetref waar hulle na die vuurtoring stap."
Onderhoudspersoneel
"Die ou wonings waarin vuurtoringpersoneel gewoon het, word nou vir toerisme-akkommodasie aangewend en is baie gewild. Daar behoort tussen 10:00 en 15:00 onbelemmerde toegang vir besoekers tot die vuurtoringperseel te wees," sê Wiggel.
Dit blyk dat toegang tot die vuurtoring se toring en lig tans afhang van die beskikbaarheid van twee personeellede verbonde aan die TNPA-onderhoudspan wat vir instandhouding aan die vuurtoring verantwoordelik is.
Hulle is egter ook verantwoordelik vir die instandhouding van ten minste agt ander vuurtorings tussen Robberg en Gansbaai, asook vir onderhoud by van die kleiner hawens, wat meebring dat hulle dikwels nie in Mosselbaai is nie.
Die instandhoudingspersoneel is wel gemagtig om toegangsfooie te ontvang en besoekers deur die vuurtoring en tot bo in die toring te vergesel. Wanneer hulle nie beskikbaar is nie, kan besoekers op die perseel rondloop wanneer die sekuriteitspersoneel die hekke oopsluit.
Daar is egter geen opgeleide toergids of selfs 'n persoon met agtergrondskennis oor die geskiedenis van óf die vuurtoring, óf die dorp en sy ontstaan, om toeriste te woord te staan nie.
Voorstelle
Die onderhoudspersoneel sê die vuurtoring is veral in somermaande baie gewild by toeriste en dat hulle dan 'n toeloop van besoekers ondervind, selfs plaaslike inwoners wat so vroeg as 07:00 hul vroegoggendkoffie op die stoepie voor die vuurtoring kom drink.
"Ek nooi Mosselbaai se belanghebbendes uit om met voorstelle te kom om die toeganklikheidsprobleem aan te spreek," sê Jacobs. Sy sê voorstelle oor die besigheidsaanwending van die perseel kan ook na haar gekanaliseer word by Tasneem.Jacobs@transnet.net.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NEWS EDITOR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'