Update
MOSSELBAAI NUUS - Ten spyte van die koue, triestige weer verlede Saterdagoggend, het 'n handjievol vrywilligers moue opgerol en was hulle druk besig met opruimingswerk in die Albert Luthuli-woongebied.
Dit blyk, volgens die groepleier Gert Christie se verduideliking, asof vullis wederregtlik op die rand van die woongebied, veral aan die kloof se kant gestort word. Hy beweer dat lede van die NG-gemeente in Uitbreiding 13 wat aan die anderkant van die kloof op die gemors toekyk, ook daaroor kla.
Die vrywilligers, almal afkomstig van ander woongebiede soos Tarka en Uitbreiding 8, het reeds in 'n vorige maand met die optel van vullis in die woongebied begin. Christie sê dat die inwoners van die Albert Luthuli-woongebied ook beweer dat mense uit ander woongebiede hulle vullis in die kloof kom stort.
Verder beweer Christie dat die inwoners nie tans by hulle skoonmaakprojek betrokke is nie, omdat dit vrywillige werk is en hulle glo sê dat hulle nie "verniet kan werk nie". Raadslid Rosina Ruiters het die groep Saterdag gaan ondersteun. Sy het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die Mosselbaai-munisipaliteit, asook die Eden-distriksmunisipaliteit die projek ondersteun deur vullissakke en ander nodige toerusting te verskaf.
Daar word volgens raadslid Ruiters ook donasies vir iets te ete vir die vrywillgers verskaf.
Hierdie span vrywilligers het help skoonmaak in die Albert Luthuli-woongebied waar vullis wederregtelik gestort word. Foto: Cornelle Carstens
Lees 'n vorige artikel: Vrywilligers verklaar oorlog
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'