MOSSELBAAI NUUS - Ses jaar nadat die gekneusde liggaam van 'n 36-jarige ma van vier by 'n woning in Calitzdorpstraat, Asla Park gevind is, is haar moordenaar verlede Vrydag, 5 Maart tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Yolandie Kiewiet is deur haar saamblymaat, Brian Booysen (37) vermoor.
Die Mossel Bay Advertiser het destyds berig dat haar liggaam op 24 Januarie 2015 deur bure in 'n woning gevind is toe hulle wasgoed daar gaan haal het. Volgens inligting het haar liggaam vol kneusplekke, skrape en met snyplekke aan haar gesig in 'n deuringang gelê.
Kiewiet was, soos berig word deur die kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisie, sers Kappie Kapp, die slagoffer van gereelde aanrandings deur haar intieme maat.
"Sy is ook voor getuies aangerand, maar daar was nie 'n beskermingsbevel in plek nie," het Kapp vandeesweek aan die Advertiser gesê. Die Advertiser het ook ten tye van Kiewiet se dood berig dat sy in 2014, ernstig beseer is toe haar intieme maat haar met 'n gebreekte bottel gesteek het.
Booysen, wat aan Kiewiet se moord skuldig bevind is, was in die gevangenis op George in aanhouding tot en met sy vonnis verlede Vrydag. Die saak is suksesvol ondersoek deur ao Geoffrey Moos.
"Ons bedank die gemeenskap vir hulle ondersteuning tydens die ondersoek wat 'n suksesvolle vonnis tot gevolg gehad het," sê Kapp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'