Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vroeër vanjaar het die Mosselbaai-munisipaliteit 'n program aangebied om vroue wat 'n uitsonderlike verskil in die gemeenskap maak, te vier.
Die kriteria het grootliks daarop gefokus om uitdagings te oorkom, 'n verskil in die gemeenskap te maak, hul man te staan in 'n manswêreld en om standvastigheid en innoverende denke te toon, ongeag ouderdom.
Verlede week is verskeie plaaslike vroue, insluitend 'n bejaarde vrou en 'n sewejarige meisie, geloof omdat hulle Mosselbaai se mega-vroue is.
Die vroue is verras deur munisipale amptenare wat aan hulle elkeen 'n geskenk en 'n sertifikaat oorhandig het.
Die jongste van hierdie inwoners is 'n leerder van Laerskool Hartenbos, Mia Swart (7).
Tydens die program, het die munisipaliteit 'n spesifieke kategorie geskep vir lede van die gemeenskap wat selde of nooit erkenning kry vir hulle dade van welwillendheid nie. In hierdie jeugkategorie, het Mia haar merk gemaak. Mia het groen vingers en plant saadjies wat sy as saailinge aan ouer persone skenk.
Mia gebruik leë toiletrolletjies om groetesaadjies in te plant. "Ek sit grond in die rolletjie en plak dit onder toe, sodat die grond nie uitval nie. Dan maak ek die grond nat waarna ek my sade plant." Mia plant dan kruiesaadjies of groentesade in die rolletjies. Sy het onlangs haar kruie-rolletjies aan verskeie tehuise in Mosselbaai geskenk. Haar groenteskeppings gee sy vir haar tannie wat dit dan weer verder versprei. "Ek het al tamaties, beet, uie en wortels, geplant," vertel Mia trots.
VERSKAFDE VIDEO :
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'