Dis min dat vroue hoor dat hulle dít waarvoor hulle in die wieg gelê is, op hulleself moet toepas.
Dít was die boodskap wat vrouelede van die Da Gamaskop-polisie se sektor 1-buurtwag Vrydag, 11 Augustus na afloop van 'n driegangmaaltyd, huis toe geneem het. Die geleentheid is aangebied in die D'Almieda-gemeenskapsaal om die vroue, wat getroue diens aan die polisiestasie lewer, te huldig gedurende Vrouemaand.
Die gasspreker, kapt Marsh Levendal het die vroue daaraan herinner dat hulle uniek deur God geskape is, juis omdat hulle koestering kan gee, maar dat dit ook die ding is wat hulle hulself die mees dikwelste ontsê.
"Sien jouself as 'n glasbeker waaruit baie glase gevul moet word, maar jy moet jouself mooi oppas dat jy nie leegloop nie."
'n Paar van die wyse woorde wat sy gedeel het, het ingesluit dat vroue hulself 'n bietjie pamperlang moet gun. "Moenie jou me time afskeep nie." Sy het die vroue aangemoedig om hulle heel eerste gedagte soggens aan iets positiefs te wy, ongeag hulle omstandighede. "Aanvaar dat vir die Meester, jou Skepper, is jy perfek. Daarom, aanvaar ander soos hulle is, want mense verskil van mekaar. Jou gedagtes bepaal wat jy sê, fokus dus om die goeie in die lewe raak te sien."
Sy het vroue gemaan om hulle tyd versigtig aan te wend en om bereid te wees om by ander te leer.
Vroue kyk toe terwyl die Jaftha-egpaar selfverdiging demonstreer.
Die Jaftha-egpaar, beide betrokke by die plaaslike polisie en ook lede van die Wes-Kaap se karatespan, het 'n leersame demonstrasie van selfverdigingstegnieke gelewer om die buurtwagvroue, wat dikwels voetpatrollies doen, te bemagtig.
Op sy beurt het die stasiebevelvoerder, kol Mark Hartzenberg, die vroue bedank vir hulle ondersteunende rol in terme van die Da Gamaskop-polisie se dienslewering aan die gemeenskap.
'n Voormalige buurtwaglid, Anestacha September, wat in Augustus 2014 vermis geraak en wie se oorskot in Februarie 2015 in die Herbertsdale-omgewing gevind is, se lewe is tydens 'n kersligseremonie gedenk. September se moordsaak het vandeesweek in die Mosselbaai-streekhof, hervat.
FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'