MOSSELBAAI NUUS - Drie vroue uit die groter Mosselbaai wat hul kultuurskoene met oorgawe vol staan, is deur die Cordis Trust vir hulle onderskeie bydraes erken toe hulle name in Januarie vanjaar dié organisasie se ererol gehaal het.
Cordis Trust, 'n privaat gedenktrust, bevorder onder meer skeppende Afrikaanse woordkuns. Die trust se doelwitte sluit ook deernisprojekte en die bevordering van geestelike werk in.
Petronel Baard, sangeres en liedjieskrywer bevorder die kunste op nasionale en gemeenskapsvlak onder die vaandel van Langvrou Produksies en het uitmuntende resultate met aanlynkonserte behaal. Covid-19 het verskeie kunstenaars by wie die Cordis Trust betrokke was, verhoed om in tradisionele teaters op te tree.
Aanlynkonserte het 'n alternatief gebied en Cordis kon steun verleen en ook hul eie platforms opskerp.
Petronel het tydens 'n aanlynkonsert 'n toonsetting gedoen van Kom ons droom vandag uit Woordpalet van Mardene Marais en dit meesterlik uitgevoer. Dit het nuwe geleenthede geskep vir haar en tot twee aanlynkonserte, Sonstorie en Woordpalet gelei.
Petronel het die Orde van die Beiteltjie in 2020 ontvang en op meriete van haar wyer fasilitering en bydrae, ook 'n plek op die Cordis Trust Ererol 2021 verdien.
Petronel Baard
René Bohnen, bekende gepubliseerde digter en bydraer tot Afrikaanse woordkuns- organisasies, het 'n lang verbintenis met Cordis Trust. Haar bydrae behels die bevordering van die mikpunt om Afrikaanse woordkuns toegankliker te maak, onder andere met die skryfskole van die Puur Plesier-skryfgroep van Marie Bredenkamp.
Twee saamstelbundels, Fosfor aan jou voete en Versvuur, onder leiding van René, gepubliseer deur Kreativ SA, met borgskap van Cordis Trust, het hieruit voortgespruit.
Sy is ook die wenner van die lykdigte-kompetisie van Versindaba, geborg deur Cordis Trust.
Mentorskap deur René onder die vaandel van Cordis se Abba-projekte om belowende woordkunstenaars voor te berei vir publikasie, het 'n Cordis Trust-digbundel, 'n Vlerkslag van kleur, deur Fransi Nieuwoudt opgelewer.
Marie Bredenkamp
Marie Bredenkamp is die derde ontvanger van die Orde van die Ster vir deelname aan en bevordering van die mikpunte van Cordis Trust. In 2015 ontvang sy die Orde van die Beiteltjie vir haar volgehoue ywer met Puur Plesier, 'n platform waar skrywers en digters interaktief kan deelneem.
Haar inisiatief van slypskole met mentorskap en twee saamstelbundels, het ander aangespoor tot publikasie.
In 2013 skakel Lisa Lorenz (Hänggli), Suid-Afrikaansgebore opera-sangeres van Zürich, Marie met die doel om Afrikaanse gedigte uit haar deelnamegroep te toonset. Fanie Marais van Cordis Trust dien as tussenganger en 'n unieke produksie, Mondverse, is deur Lisa in George vrygestel by 'n luisterryke geleentheid, waar die Suid-Kaap Kinderkoor opgetree het.
Marie leef voluit vir haar taal en volksbesit. Sy vors die kultuurhistoriese na.
Nog twee Suid-Kaapse vroue wat vereer is op die ererol is Myra Lochner van Kreativ SA, George, 'n gemeenskapsinistiatief wat skrywers help om hul werk te publiseer. Die multi-talentvolle liriekskrywer, sangeres en aktrise Steffie le Roux, oorspronklik van Oudtshoorn, is ook benoem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'