MOSSELBAAI NUUS - Lede van die Eden Knitwits het verlede week Kersvader "gespeel" toe hulle van hul handgebreide en -gehekelde speelgoed uitgedeel het.
Die Eden Knitwits het ontstaan tydens die 2020 Covid-19-grendeltyd. Die groep het 'n komitee gekies om die sosiale byeenkomste asook die verspreiding van die items wat gebrei of gehekel word, te reël.
Die vroue is Charlene Boardman, Ria Potgieter, Elizma Ludick, Marita Steyn en Christa Rootman.
Hulle het in die winter mussies en serpe gebrei en in die gemeenskap waar daar 'n behoefte was, uitgedeel. Baie vroue het speelgoed geskenk vir Kersfees en hulle het reeds baie daarvan geskenk vir veldtogte soos met die 16 dae aktivisme teen geweld teen vroue en kinders en die motorfietsryers se toyrun en met Care Centre Mosselbay en Sonskynvallei se Kerspartytjies.
Op Donderdag, 8 Desember het die vroue by die kindersaal van die Mosselbaai provinsiale hospitaal en by D'Almeida kliniek van die breiwerk uitgedeel as hul laaste uitreik vir 2022.
Al die vroue wat so fluks vir Eden Knitwits brei en hekel om al hierdie skenkings moontlik te maak, is plaaslike inwoners van Mosselbaai en omgewing.
Elizma Ludick oorhandig 'n gebreide beertjie aan een van die kinders in die Mosselbaai provinsiale hospitaal se kindersaal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'