Die Groot-Brakrivier SAPD ondersoek 'n saak van moord nadat Linda se bebloede liggaam op Sondagoggend, 13 Julie gevind is in die huis in Vogelsang waar sy en die verdagte gewoon het.
Linda, 'n oud-leerder aan die Groot-Brakrivier Sekondêre Skool, het by die verdagte gebly ten spyte van talle kere wat hy haar glo geslaan het en selfs op 'n keer haar arm sou gebreek het.
"Hy het haar dikwels afgeluister wanneer sy met ons in die huis gesels het. Dan het hy die gesprekke van buite die deur op sy foon opgeneem en dit later vir haar terug gespeel," sê Maria.
Die verdagte het glo etlike kere agter bosse geskuil en Linda verras wanneer sy na die buitetoilet sou gaan.
"Hy was baie jaloers en het Linda gereeld beskuldig dat sy verhoudings met ander mans het. Dit was onwaar. Sy was 'n sagte kind."
Maria se dogter het gereeld nuwe slaanmerke aan haar lyf gehad, maar niks wat die familie gesê het, kon Linda sover kry om die man te los nie.
Op die betrokke aand, verlede Sondag, het die verdagte en sy glo stry gekry. Volgens oogge-tuies het hy haar kop teen 'n muur geslaan, waarna hy haar na bewering langs die N2 snelweg gesleep het.
"Ons dink hy wou haar dalk voor 'n voertuig ingooi," sê Maria.
Sy het om ongeveer 01:00 Sondagoggend gehoor hoe voertuie toeter blaas.
"Dit moes toe gewees het wat hy en Linda langs die pad was. Ek het haar Saterdagaand nog gesien voor sy saam met hom weg is en sy was piekfyn."
Die verdagte het Linda vermoedelik hierna terug na hul huis gedwing.
Sleepmerke vir etlike meters, sowel as kledingstukke, was die stille getuienis van wat die betrokke aand gebeur het. Haar naakte en bebloede lyk is deur hul buurvrou aan die kant van die dubbelbed gekry.
"Dit was 'n verskriklike gesig. Daar het bloed by haar oë uitgekom en haar gesig was geswel."
Die buurvrou, mev Beverley Mowers (53), sê die verdagte het haar Sondagoggend geroep en gesê Linda is dood.
"Sy het leweloos langs die bed gelê en als was vol bloed," vertel Beverley.
Volgens Beverley het die verdagte reeds Linda se bebloede klere uitgetrek en dit êrens gaan gooi.
"Sy was kaal."
"Dis 'n bitter hartseer verhaal," sê Maria.
Volgens die woordvoerder van die Groot-Brakrivier SAPD, kst Tammy Fowler, het die oorledene beserings aan haar kop en merke aan haar heupe en bene.
Dis nog onbekend waarmee sy aangerand is.
Die verdagte het intussen in die Mosselbaai Landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Buurvrou Beverley Mowers (53) voor die huis waarin mej Linda Bruintjies (27) dood aangetref is.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'