MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling het die afgelope week 'n enkelma en haar drie minderjarige kinders, waaronder 'n agt maande oue baba vanuit die stormwaterdeurlaat waarin hulle gewoon het, verwyder.
Die optrede volg nadat 'n lid van die publiek die munisipaliteit se aandag daarop gevestig het dat mense in die stormwaterdeurlaat woon en dat daar ook kinders opgemerk is.
Die wetstoepassers het die ma, 'n baba en twee ander kinders van onderskeidelik vyf jaar oud en nege jaar oud te hulp gesnel, veral omdat dit lewensgevaarlik is om in die stormwaterafvloei te woon. Uit die omstandighede het dit voorgekom asof die gesin reeds etlike maande daar skuiling gevind het.
Die ma het ook twee groter seuns wat vroeër reeds elders 'n heenkome gekry het, maar het weens omstandighede vir haar gesin beskutting onder die deurpad gesoek. Na wat verneem word, is die vrou se eggenoot geruime tyd gelede reeds oorlede en voer sy 'n sukkelbestaan om met haar gesin te oorleef.
Na 'n omslagtige soektog na ure op Dinsdag, 6 Augustus, om personeel van enige van die sosiale welsynsdienste op te spoor, is die gesin uiteindelik vir 'n heenkome tot by Creating Effective Families (CEF) geneem.
By CEF, nadat die wetstoepassers vertrek het, het die ma egter vir 'n tweede keer aangedui, dat sy nie hulp met slaapplek vir haar en haar kinders nodig het nie. Sy het CEF se perseel met haar kinders verlaat. Sy is aan CEF bekend en het vantevore van hul diens gebruik gemaak.
Karin Gildenhuys van CEF sê hulle kan nie noodleniging of hulp op enigiemand afdwing nie, en het daarom onmiddellik die relevante maatskaplike werkers van die voorval ingelig en die adres verskaf van waar die ma 'n heenkome sou kry sodat na die welsyn van die kinders omgesien kan word.
Munisipale-personeel het intussen die area waar die ma gewoon het, opgeruim.
Enige persoon wat CEF, die instansie waar gewoonlik om hulp aangeklop word kan of wil ondersteun, kan Gildenhuys kontak (044 693 4144).
Die gesin se eiendom word op 'n voertuig gelaai om verwyder te word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'