TUINROETE NUUS - 'n Vrou wat in September 2018 beweer het dat sy deur vier mans in polisiedrag duskant Glentana verkrag is en daaroor gejok het, is onlangs in die George-landdroshof op 'n aanklag van regsverydeling gevonnis.
Die beskuldigde, Retha Horn (52) woon op Blanco in George en het skuldig gepleit.
Die hof het die pleit aanvaar en Horn tot ses maande gevangenisstraf, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar, of 'n R3 000 boete, gevonnis. Horn is ook tot ses maande gevangenisstraf gevonnis, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar.
Volgens Horn was sy onderweg vanaf Glentana na George toe die beweerde verkragting in die Hooggekraal-omgewing plaasgevind het.
Horn beweer vier mans met klapmusse, wat hulself glo as polisiemanne voorgedoen het, het haar die nag van 24 September aangehou, bedwelm en verkrag nadat hulle haar omstreeks 19:00 op die R102 tussen Mosselbaai en George voorgekeer het.
Die saak is die volgende dag by die polisie aangemeld, maar op 26 September het Horn egter besluit om die saak terug te trek. Die polisie het egter steeds die bewering ondersoek en genoeg bewysstukke bekom om 'n prima facie saak teen die beskuldigde te maak waarna Horn in November by haar huis in Blanco in hegtenis geneem is. Suid-Kaap-polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie sê die polisie neem bewerings soos Horn gemaak het, ernstig op. "Ons sal nie duld dat lede van die publiek die polisie se naam beswadder wanneer daar geen so 'n voorval eens plaasgevind het nie. Dit veroorsaak dat die publiek wantroue in die polisie het en sulke vals bewerings sal nie geduld word nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'