MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyf-en-dertigjarige vrou van Mosselbaai, Susan Skibotha is op Dinsdag, 23 Oktober effektief vyf jaar gevangenisstraf in die Mosselbaai -streekhof opgelê nadat sy 'n driejarige seun in 2017 ontvoer het. Die voorval het in Augustus in Mayixhalestraat in KwaNonqaba gebeur.
Die slagoffer het ten tye van die voorval buite die erf voor 'n tuinhekkie gespeel toe Skibotha hom gevat het en saam met haar na haar huis in dieselfde woongebied geneem het. Sy het aan 'n vriendin gesê dat die seun haar kind is wat sy in Oudtshoorn gaan haal het.
Die kind het die aand by Skibotha gebly, maar haar vriendin het die volgende oggend onraad vermoed toe sy polisiewaens in Mayixhalestraat sien. Sy het navraag gedoen en gehoor dat 'n kind ontvoer is, waarna sy die slagoffer se pa ingelig het van die vorige aand se gebeure.
Die polisie het die slagoffer in Skibotha se huis, waar hy onder 'n kombers bedek was, gevind. Dit is steeds nie duidelik wat Skibotha beplan het nie maar die seun het geen beserings opgedoen nie en is weer aan sy ouers oorhandig.
Die saak is suksesvol ondersoek deur ao Alistair Rezant van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'