MOSSELBAAI NUUS - 'n Tragiese gebeurtenis het Maandag in Reebok afgespeel toe die bestuurder van 'n Mercedes Benz-sedan beheer oor sy voertuig verloor het waarna dit teen 'n huis gebots het en sy passasier opslag dood is.
Dirk (85) en Martina Estelle (79) Steyn, jarelange inwoners van Riverside by Klein-Brakrivier, was Maandag, 16 Maart in Grysboklaan vanaf 'n vriendin op pad terug huis toe, toe die botsing op 'n draai plaasgevind het.
Dirk, wat bestuur het, het beheer oor die voertuig verloor en het in die muur van 'n huis vasgery. Die moontlikheid dat dit aan 'n mediese toestand gekoppel was, kon met die ter perse gaan nog nie uitgesluit word nie.
Volgens inligting is Martina Estelle opslag dood en haar hondjie, Lucy, wat saam in die voertuig was, is ook dood. Dirk is ernstig beseer in die ongeluk. Hy is deur nooddienspersoneel op die toneel behandel en na die hospitaal geneem vir behandeling. Forensiese deskundiges het die toneel ondersoek en later die middag is Elizabeth se liggaam uit die voertuig verwyder.
Dirk Steyn (junior), die egpaar se seun, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê sy pa het 'n sny op die been opgedoen. Hy ontvang tans fisioterapie hiervoor en was teen Woensdag nog in die hospitaal. Die nadoodse ondersoek op Elizabeth sou volgens Dirk Woensdag plaasgevind het. Die Steyn-egpaar is reeds meer as 20 jaar plaaslike inwoners.
Raadslid Anton Dellemijn, wat een straat van die ongelukstoneel in Grysboklaan af bly het aan die Advertiser gesê: "Dis hartseer om van die nuus te verneem. Ons innige meegevoel aan die oom en familie met die heengaan van tannie Elizabeth. Ons bid oom Dirk spoedige beterskap toe. Dankie aan die munisipale nooddienste, Midbrak-buurtwag en polisie vir hulle spoedige hulpverlening by die ongelukstoneel."
Die begrafnisdiens gaan opgeneem word en digitaal aan famililede gestuur word. Belangstellendes in die video kan Dirk Steyn kontak by 0827572273
Wyle Martina Estelle Steyn (79).
Die toneel in Grysboklaan, Reebok waar die botsing Maandag op die draai plaasgevind het.
Die Mercedes Benz het hier teen die muur van die huis gebots nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'