MOSSELBAAI NUUS - 'n Vrou wat in De Bakke woon moes 'n operasie ondergaan nadat 'n verdagte man haar tydens 'n rooftog met 'n kapmes raakgekap het.
Die vrou het op Vrydag, 12 Julie tuisgekom nadat sy inkopies gaan doen het toe 'n man, volgens haar beskrywing geklee in bruin klere met 'n bruin hond by hom, uit die bosse naby haar woning te voorskyn kom.
Die voorval het omstreeks 14:30 plaasgevind. Die vrou het weerstand gebied toe die man haar handsak probeer gryp, waarna hy haar met die kapmes op haar arm gekap het.
Die man het hierna met sy buit gevlug en in die bosse verdwyn.
Die vrou is in 'n plaaslike hospitaal behandel waar sy volgens inligting 'n operasie moes ondergaan na aanleiding van haar besering.
Niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie.
Die saak word ondersoek deur sers Donovan Geswindt van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling (044 606 2200).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'