MOSSELBAAINUUS - So dikwels is die gemeenskap nie bewus van die bestaan van 'n sorgsentrum of hospies in die omgewing nie. By @ Peace word palliatiewe sorg, sub-akute sorg en die versorging van sterwendes in 'n uiters sorgsame omgewing gelewer.
Twaalf pasiënte is onder voortdurende sorg by die @ Peace-sentrum.
'n Geneesheer lewer vrywillige dienste, terwyl die Mosselbaai provinsiale hospitaal ondersteuningsdienste bied.
@ Peace is gedurende September 2010 deur die Brettenny-egpaar, Mark en Rogeline gestig. Die egpaar het die roeping ontvang om hulle woning in Tarka vir hierdie reusetaak beskikbaar te stel. Die personeel by @ Peace is baie lief vir hul pasiënte.
'n Groep vroue, onder die vaandel, Geliefd, Geborge en Gekoester het op 14 November 'n vroeë Kersete vir die personeel aangebied. Almal het flink saamgewerk en 'n koue ete, verskeidenheid slaaie en nagereg is aangebied. Elke personeellid het ook 'n koffiebeker as geskenk ontvang.
Rogeline Bretteny het in haar bedanking gesê: "Wanneer ons die @ Peace Care Centre se berigte lees, gaan dit gewoonlik oor die pasiënte, bedankings, of oor die sentrum self. Selde word die werk van die personeel erken. Hierdie ronde het dit oor die personeel en al die vroue wat by @ Peace werk gegaan. Wat 'n voorreg was dit om diensbaar te wees."
Volgens Jo Venter, een van die organiseerders was hierdie geleentheid en die ervaring wat die vroue gehad het om saam met soveel toegewyde personeel te eet en te kuier, voorwaar vir hulle 'n feestelike geleentheid. "Ons sal die besonderse paar uur nog lank koester, dit sal ons ook aanspoor tot groter meelewing en betrokkenheid," het Jo na afloop van die geleentheid gesê.
'n Groep vroue, onder die vaandel, Geliefd, Geborge en Gekoester, het die personeel van @ Peace-versorgingsentrum trakteer met 'n Kersete vir hul onbaatsugtige werk wat hul doen met die pasiënte. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'