MOSSELBAAI NUUS - "Gaan vandag se protes enige verskil maak? Waarskynlik nie. Maar, dit is maar net die begin."
Dit was die mening van oud-Springbokrugbykaptein Johann Muller, wat Maandag die groot skare mense wat by Hartenbos in protes teen die toenemende vlaag van geweldsmisdade in die land saamgetrek het, toegespreek het.
"Dit gaan nie hier oor watter ras die slagoffers (van misdaad) is nie - dié protes is nie 'n boer of plaasmoordding nie.
"Almal hier het genoeg gehad van moord en misdaad. Almal hier moet saamstaan.
"Om weg te hardloop en te emigreer is nie 'n oplossing nie - Suid-Afrika is die beste land in die wêreld. Ons wil hiér wees.
"Wees daarom deel van die oplossing, nie die probleem nie," aldus Muller.
Hy het die skare aangemoedig om sterk standpunt teen geweldsmisdaad in te neem.
Kyk 'n video:
Drie byeenkomste
Anders as op ander dorpe, het Mosselbaaiers die afgelope week by drie geleenthede hul verset teen veral plaasmoorde en die brutaliteit van geweldsmisdade in die land laat blyk.
By elk van hierdie geleenthede het spreker na spreker dit beklemtoon dat die protes gemik is teen álle vorme van geweldsmisdrywe en, hoewel die protesbeweging veral op landbouers gefokus het, geen slagoffer van misdadigheid en geweldsvergrype oorgesien word nie.
Die protesbeweging op Mosselbaai het reeds 'n week gelede begin toe 'n groep mense vroeg op Vrydagoggend, 27 Oktober by die vullisstortingsterrein naby Danabaai bymekaar gekom het.
Hierdie byeenkoms, geïnisieer deur Pieter Smit, is douvoordag op Maandag, 30 Oktober onder die St Blaize-grot by die Punt opgevolg.
Dié protes het later die dag, omstreeks 12:00, in een van die grootste plaaslike saamtrekke teen misdadigheid nóg uitgeloop.
Konvooi
Die Hartenbos-byeenkoms, 'n inisiatief van georganiseerde landbou, is voorafgegaan deur 'n konvooi van sowat 20 trekkers, plaaslorries, selfs bromponies en ander motors wat vanaf plase in die Herbertsdale-distrik en vanuit Mosselbaai met die N2 tot by Hartenbos gery het.
Mosselbaai se wetstoepassers het verseker dat noodverkeer steeds die N2 kon gebruik, maar die ondersteuning van ander padgebruikers vir die opsigtelike verset was tekenend.
Talle voertuie wat rigting Kaapstad met die N2 gery het, het hul steun op allerlei wyse laat blyk.
Tog was sommige motoriste deur die konvooi, wat by tye skaars 10km/h beweeg het, verontrief.
Sowat 20 trekkers, plaasvoertuie, selfs bromponies en tientalle ander voertuie het in konvooi met die N2 hul weg gebaan vanaf Herbertsdale tot by Hartenbos om beswaar te maak teen die toenemende vlaag geweldsmisdaad in die land. Foto: Dave van der Merwe
Landbouers, plaaswerkers, Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester Dirk Kotzé, oud-burgemeester Marie Ferreira, ander raadslede en oud-raadslede, oud-Springbokrugbykaptein Johann Muller, oud-recce (verkenningsoldaat) van faam Wynand du Toit, asook honderde doodgewone mans en vroue van alle ouderdomme en nerings, selfs heelwat honde het op Maandag, 30 Oktober by Hartenbos hul misnoë met die gewelddadigheid en sinnelose brutaliteit van die gruweldade teen die mensdom betoon.
By die eerste twee protesbyeenkomste het ds Gielie Joubert die geestelike begeleiding gedoen.
Op Hartenbos het ds Hennie Stander van die NG kerk Herbertsdale vir 'n oomblik van stilte gevra uit respek vir die tallose slagoffers van geweldsmisdade.
"Dit het tyd geword vir goeie mense om op te staan," het ds Stander gesê.
In die versoekskrif wat aan die Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, Dirk Kotzé oorhandig is, is melding gemaak van 'n besondere eensgesindheid wat op plase en in die landbou heers jeens die onsinnige moorde op mense, ongeag hul ras.
Die regering is in die skrywe versoek om tussenbeide te tree, om op te tree, terwyl die Mosselbaai-munisipaliteit bedank is vir die stabiliteit wat hulle in dié omgewing bewerkstellig.
Die versoekskrifte is deur Hendrik Pienaar, een van die protesbeweging se organiseerders aan raadslid Kotzé en aand die bevelvoerende offisier van die SA Polisie se Da Gamaskop-polisiesone, brig Gerhard Jantjies, oorhandig.
"Geweldsmisdaad, ongeag die slagoffer daarvan, moet beveg word. Ek doen 'n beroep op die regering om ag te slaan op die duidelike boodskap dat geweldsmisdade almal in die land benadeel.
Jonk en oud, mense van alle rasse het in Hartenbos saamgetrek teen die toenemende vlaag geweldsmisdade wat dreig om handuit te ruk in die land. Foto: Adéle Geyser
"Ons dra vandag swart en huldig alle boere wat vermoor is terwyl hulle kos vir die land en al sy mense produseer, terwyl hulle 'n lewe vir hul gesin probeer maak.
"Ek nooi Mosselbaaiers om deur gemeenskapsbetrokkenheid misdadigheid in alle vorme te voorkom. Mosselbaai se munisipaliteit is ernstig oor die gemeenskap se veiligheid en ondersteun die buurtwagstelsel en ander inisiatiewe om veiligheid te bevorder.
"Mosselbaai is die Dorp van die Jaar juis omdat mense hier nog vir mekaar omgee."
Die drie protesbyeenkomste was gekenmerk aan honderde mense wat ootmoedig verenig het in protes teen die toenemende vlaag geweldsmisdaad wat Suid-Afrika teister.
Vrydagoggend, 27 Oktober se kleinerige groepie wat hande gevat het in gebed, het Maandagmiddag tot letterlik honderde mense uitgebrei wat in solidariteit saamgestaan het teen die misdadigheid in die land.
Lees 'n vorige artikel: Honderde staan saam teen misdaad
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
Foto's: Nickey le Roux, Dave van der Merwe, Adéle Geyer, Lizelle Crous
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'