MOSSELBAAI NUUS - 'n Vragmotor is die afgelope week aan die brand gesteek op Reebok Stene se werksperseel buite Groot-Brakrivier.
Werkers staak oor lone en dring aan op beter voordele.
Polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais sê tussen 15 en 20 werknemers neem aan die staking deel.
Op Dinsdag, 15 Augustus is skade aan die kantoorgebou op die perseel aangerig, ruite is met klippe gegooi en kameras wat om die gebou geïnstalleer is, is beskadig.
Marais sê dit is nie bekend wie vir die skade verantwoordelik is nie. "Die polisie ondersoek 'n saak van openbare geweld en kwaadwillige beskadiging van eiendom."
Sy sê videomateriaal van die voorval sal nagegaan word waarna arrestasies mag volg.
Intussen sê die vakbond National Certificated Fishing and Allied Workers Union (NCAFWU) in 'n verklaring dat hul lede onder meer aandring op 'n dertiende tjek as 'n bonus in Desember 2018 en dat die staking wettig is.
Woordvoerder van die vakbond, Clarence Mtyenele sê egter hulle distansieer hulself van enige gewelddadige optrede.
Mtyenele ontken ook dat die vragmotor deur stakende lede van NCAFWU aan die brand gesteek is.
Dit is al wat oorgebly het van die vragmotor wat op Reebok Stene se perseel aan die brand gesteek is.
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'