Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Woensdag, 8 Junie was ‘n besonderse mylpaal vir ‘n vrou van Asla Park wat ‘n lank gekoersterde droom bewaarheid het.
Jennifer Saal kon met dankbaarheid toekyk hoe die Pniël Educare and Aftercare amptelik in gebruik geneem word. Sowat 78 kinders vind hier ‘n heenkome.
Sedert ongeveer 2013 voer sy ‘n stryd om dié fasiliteit na behoefte in te rig.
Woensdag se feesvieringe is deur verskeie hooggeplaastes bygewoon, asook medewerkers wat tans die sentrum ondersteun in hulle opvoedkundige en ander ontwikkelingsbehoeftes.
Dit sluit in Docenda en Bold Moves, beide nie-winsgewende organisasies gemoeid met opleiding.
Raadsheer Dirk Kotzé, uitvoerende burgemeester van Mosselbaai was die gasspreker en het saam met Saal, die amptelike opening van die sentrum behartig.
Professor Flip Buys van Docenda en dr Job Ubbink van Bold Moves was ook onder die sprekers.
Eden FM se luisteraars het oor ‘n afstand deelgeneem aan die verrigtinge aangesien die stasie regstreeks vanuit Asla Park op die sentrumgronde uitgesaai het.
Die stasiebestuurder, Morné Petersen het as programleier opgetree.
Soos 'n ware sprokie luit, "goue lint, my storie begint" , glimlag 'n oorstelpte Jennifer Saal toe die burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé die lint tydens die amptelike opening knip. Regs staan Saal se effenoot, Samuel. Fotos: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'